'n QVRP blog

Honde | Katte | Soogdiere | Voëls | Roberts Voëlname | Boeke

29.8.11

Bytende Bokkie, die African Grey

Hallo

Ek is so bly dat ek jou "site" gekry het. Dankie sover vir al die wonderlike inligting.

Ek het vir Dollie. Sy is 4 jaar oud. Sy is die baba in die huis en baie erg oor my en my man. As een van ons nie daar is nie soek sy die ander een.

Sy sal net by my man bly as ek nie naby is nie, anders is sy op my. Sy sit nie sommer alleen nie en wil net heeltyd op my wees. As ek haar partykeer neersit en sy wil nie afklim nie byt sy my dat die bloed loop. My hande is "gemerk" met haar byte. Sy het my ook een keer by my lip gebyt dat dit 'n gapende wond was. Ek oordryf nie, dis regtig. Ek is vol merke. Sy sal partykeer ook my man byt as sy nie haar sin kry nie. Ek dink sy is net te bederf om altyd haar sin te kry.

Sy praat net soos ek maar praat nie sommer as sy by my is nie. As sy by haar pa is praat sy onophoudend. Ek weet nie hoekom sy nie eintlik by my wil praat nie. Sy sal net heeltyd vra waar haar pa is as hy nie naby is nie, of af en toe iets anders sê.

Sy slaap net in haar hok en het haar eie kamer. Daar is 'n netafskorting voor die deur as ons nie daar is nie. Verder is sy altyd by ons. Ons sal ook nie iewers gaan as sy nie kan saamgaan nie, dit sluit tot vakansies in.

Sy is regtig die kind in die huis, Sy borsel in die oggende "tande" saam met my, sy gebruik die baba tandepasta. Sal dit skadelik vir haar wees? Ek sluit 'n foto in, sy kom elke oggend en sê ons moet gaan spoel (tande borsel) nadat sy bo die stort gespeel het as ek en my man stort.

Sy sal ook in die oggend sê of sy pap of brood wil hê. Die pap is pro nutro wat ek met water aanmaak of die brood is 'n snytjie met margarine wat sy dan bolangs afeet.

Jong, al wat eintlik wil weet is of die tandepasta skadelik vir haar is en kan sy nog haar pap en brood eet want van die veartse het gesê ek moet ophou daarmee.

Ek het al so baie opgesoek op die internet maar het nou eers op jou site afgekom. Ek het maar heeltyd met oorsese mense gekorrespondeer vandat ek Dollie gekry het.

O ja, sy is nou weer Bokkie, sy gee haarself elke nou en dan 'n ander naam.

Lekker naweek

bydrae: Christa Janse van Rensburg

Antwoord:


Hallo Christa
Sjoe, maar jy het sulke mooi en interessante dinge vertel van jou papegaai-kind, dat ek eintlik hardop gelag het. Waarom? Alles klink so bekend, asof jy van my eens “bytende-kind” vertel. Iets wat soos ʼn paal bo water uitstaan, is dat sy vreeslik bederf is. Sy is soos ʼn kind wat “tantrums” gooi, omdat sy nie kry wat sy wil hê nie. Raai wie is die skuldige persoon? Mmm, reg jy en jou man. Sy is, lyk my, nog nooit reg of dalk nooit gedissiplineer nie en die ergste is sy gaan moeilik aanpas met ʼn verandering. Ja, sy kan verander, maar dit gaan baie geduld en baie tyd neem om haar reg te leer. Ongelukkig is dit nie soos ʼn mensekind wat jy oor jou skoot kan trek en pak gee nie.
In die verlede het ek gehoor van mense wat hulle Grey op sy snawel liggies geskiet het met die vinger wanneer hy gebyt het en was ek ontsteld daaroor gewees Erg. Hulle snawel is soos ʼn vingernael en het nie regtig gevoel nie, behalwe as ʼn mens regtig skade wil berokken. Weet jy, dit veroorsaak ʼn skokreaksie en hulle trek terug. Jy moet hard praat, nie skree nie, ferm en liggies skiet wanneer hy/sy byt. Met tyd leer hulle dat dit ʼn teken is om op te hou byt. Trek groot oë, besliste nee wat dit opvolg, met ʼn skiet op die snawel en hulle sal leer dat hulle oortree. Moet nooit die papegaai neergooi grond toe nie, dit veroorsaak vrees en onsekerheid en kan hulle mense-ouers verwerp daardeur. Selfs kan dit gebeur dat hulle seerkry.
Hoe lag ek nie vir jou vraag oor die broodjie nie. Ek bedoel ʼn veearts se jy moet ophou daarmee, en jy vra my of jy maar kan voortgaan hiermee. My antwoord is ʼn besliste NEE. As dit volgraan broodjie is sonder margarine, maar met grondboontjiebotter, ja, gee vir hom, anders moet jy dit nie doen nie. Ons moet altyd ingedagte hou dat ʼn African Grey baie oud word, self sy menseouers soms oorleef, wat beteken dat ons hulle ʼn gesonde lewe moet gun. Gee wat hulle mag eet en nie wat hulle gesondheid benadeel en vroeg laat sterf nie.
Die tandeborsel idee klink te oulik, maar afgesien daarvan klink dit nie goed dat hy mense tandepasta inkry nie. Waarom sit jy nie liewer iets op wat vir hom gesond is nie? ʼn Mens kan nou se dat hy nog nooit iets daarvan oorgekon het nie ja, maar eendag sal jy die vrug hiervan pluk. Kontak jou veearts en hoor of dit raadsaam is. Tree dan volgens sy mening op.
Net ʼn laaste woord. Leer jou kind dat hy moet gehoorsaam en nie byt wanneer hy nie sy sin kry nie. Dit sal reg kom as jy aanhou leer.
Groete
Francien Mare

1 comment:

  1. Hi

    Ek wonder of jy my kan help?

    Ek het 2 pappegaaie
    • JoJo = Hy is ‘n mannetjie, Red Lored Amazon, seker nou so 4 Jaar oud
    • Sammy = Dit is nog onbekend waste sex hy/sy is , African Grey, seker nou so 3 Jaar oud

    Ek het gesien op jou blog hoe om die sex van Grey’s te bepaal en ek sal gaan kyk, dankie 

    Sammy byt graag, nie altyd nie maar as daar gebyt word is dit met mening en ek moes al vir steke by die hospital gaan  Hoe kan ek dit beheer?

    Sammy speel graag met my, hy sal op die grond sit en dan my vingers vastrap met sy voete en saggies byt, sy vlerke sal ook oopgespan wees en hy maak snaakse geluidjies, maar die byt raak al hoe harder en dan los ek maar die speeltyd en ek kan sien dit is baie ongelukkig oordat ek nie meer wil speel nie. Watse gedrag is dit?

    JoJo is wonderlik, hy byt glad nie en het die mooiste persoonlikheid, so daar is geen problem met hom nie 

    Aangeheg is fotos van die twee

    Ek is baie life vir hulle, maar Sammy maak my sooo kwaad, hy sal sommer vir JoJo aanval en dan hardloop arme JoJo weg vir hom, lol 

    ReplyDelete