'n QVRP blog

Honde | Katte | Soogdiere | Voëls | Roberts Voëlname | Boeke

28.3.11

Hoekom skree my papegaai so?

Francien Mare

Na aanleiding van die vele vrae wat gereeld aan ons gerig word oor die een groot probleem wat die meeste papegaai-ouers stel, naamlik: - “Wat kan ek doen met my papegaai wat so skree. Ek kan dit nie meer hanteer nie,” het ek met navorsing begin en tot 'n wonderlike slotsom gekom. Ander bronne is ook geraadpleeg en dit het in vele opsigte ooreengekom met ons bevinding. Nou kan ons diegene help wat hierdie probleem elke dag moet hanteer.

Ons moet begin by die mens om die probleem te verstaan.

Die meeste van ons het grootgeword met die verstandhouding dat “Kinders gesien en nie gehoor word nie.” Kinders kan so “hoorbaar” word met tye en volgens ons sonder rede.

Kleintjies gil maar net om hulle te laat hoor en daardie uitbundigheid is ʼn manier van speel, uiting gee aan, of genot, of dalk vrees, of dalk net omdat hulle stout is. Telkens word die kinders aangesê om buite te raas en dan weet jy gaan dit net erger word. Daar was hulle toegelaat om so hard as wat hulle wil te raas.

Die term skree, met verhouding tot ons papegaaie, word ongelukkig in ʼn groot mate misbruik. Die volume wat hier klein gediertes kan voortbring is telkens verstommend. Die meeste van julle weet seker waarvan ek praat. Tog moet ons in staat wees om te bepaal wat is die verskil tussen, wat is ʼn geskree en wat is vokalisering, wat absoluut normaal is en wat van hulle verwag word, hoe luidrugtig dit ook mag word. Wanneer daar werklik net geskree word, is dit nie aanvaarbare gedrag nie en moet dissipline toegepas word.

Ek onthou die dag toe my African Grey, Louis, die eerste keer ʼn kat gesien het. Hy was vreesbevange en het oorverdowend geskree. Ek het hom probeer troos deur hom vas te hou, maar my ore het dit ontgeld, glo my.

Was dit ʼn geskree? Ongetwyfeld en verseker was dit die luidkeelse geskree van Louis. Hierdie was egter die reaksie op ’n vreesbevange situasie en kan nooit as ʼn onaanvaarbare gedrag beskryf word nie.

Ons voëls besit steeds hulle natuurlike instinkte. Nog ʼn voorbeeld hiervan is die geluide met die son se opkoms en ondergang. Die nuwe dag word begroet en vanaand word die familie huis toe geroep na die dag se harde werk.

Wat jy ook kan verwag is daardie geskree van “bly ek leef steeds” dreigemente teenoor speelgoed waarmee gespeel word en terselfdertyd oorwin en vernietig word, of wanneer hulle hul maats probeer opspoor, die mens-ouers ingesluit, wat buite sig geraak het.

Onthou dat voëls vokale gediertes is en hulle stemme kan uiters luid voorkom. Wanneer jou papegaai hard begin skree beteken dit nie dat hy net verniet skree nie. Daar is gewoonlik ʼn goeie rede waarom daar geraas word. Gebruik die woord “skree” in gevalle waar jou papegaai geweldig raas om jou te manipuleer, daarop aandring om jou aandag te bekom. Hierdie is tye wat jy die papegaai se gedrag behoort aan te spreek. Andersins, laat jou papegaai wees wat hy is en probeer om nie inmekaar te trek wanneer dit weer gebeur nie.

ʼn Papegaai wat nie vokaliseer nie, het ʼn veearts nodig. Dit is ʼn direkte aanduiding daarna dat hy siek is.

No comments:

Post a Comment