'n QVRP blog
 
 Honde | Katte | Soogdiere | Voëls | Roberts Voëlname | Boeke

20.1.09

Papegaaie wat raas

Na aanleiding van die talle navrae wat ons die afgelope tyd ontvang het aangaande skreeuende papegaaie, het ons hierdie artikel saamgestel om vir julle van hulp te wees. Ons hoop dat daar iewers lig in hierdie donker tonnel sal wees teen die tyd wat julle dit deurgewerk het.

Ek is oortuig daarvan dat daar heelwat papegaai-eienaars is wat een of ander tyd met skreeuende papegaaie te doen gekry het, of dan ten minste al gehoor het van sulke probleme. As jy dus 'n skreeuende papegaaikind het, wat doen jy? Kom ons kyk moontlike oorsake.

Direkte omgewing
Ons besef nie wat se belangrike rol die ligging van die hok speel nie. Is daar gillende kinders, blaffende honde, luidrugtige bure, harde musiek of dalk is die TV te hard? As dit die geval is moet jy kyk om 'n rustiger atmosfeer vir jou papegaai te skep. Na 'n rustiger plek te skuif waar daar steeds aktiwiteite is, maar wat nie ontstellend is vir hom nie. Probeer om planne te bedink om kinders aan te spreek, TV af te draai, moenie op jou kinders gil nie en hou die honde rustiger.

As jou gesindheid, en die van die res van die gesin, rustig is in sy direkte omgewing en selfs die atmosfeer rustig voel, kan ons hiervandaan verder werk.

Kyk nou na sy omgewing self, kyk na die mense, troeteldiere en na jouself natuurlik. Is daar nie dalk iets wat jou papegaai voor bang is nie? Miskien 'n vreemde kleedingstuk wat hy nie ken nie? Vreemdes of iemand in die gesin? Dalk wilde voëls buite of 'n troeteldier in die huis? Het jy meubels verskuif of dalk nuwes aangekoop? Dalk iets waarvan hy nie hou in sy nabyheid nie?

Indien dit die geval is verwyder die oorsaak wat hom ontstel en bang maak. Jy kan dalk 'n ander vertrek probeer, maar maak die keuse 'n laaste uitweg. Jy kan self drie kante van die hok met 'n ligte lap bedek, net om hom daarvan te weerhou om al hierdie steurings waar te neem. Maar hierdie is nie altyd 'n oplossing nie, aangesien hulle gespanne raak juis omdat hulle hoor en nie kan sien wat om hulle aangaan nie.

Die moontlikheid bestaan ook dat jou papegaai reageer op iets. Hou dagboek van wat gebeur wanneer hy begin skree. Sou jy kan vasstel wat die oorsaak is, of wat daartoe aanleiding gee dat hy begin skree kan jy sodoende die oorsaak elimineer. Dit kan 'n eenvoudige oorsaak wees, byvoorbeeld wanneer iemand skielik te vinnig opstaan en hy verskrik begin skree.

Vervul jy sy behoeftes
As 'n papegaai-eienaar behoort jy ook na jou papegaai se behoeftes om te sien. Gee jy daagliks skoon water en die nodige voedsel wat hom gesond en gelukkig hou? Kossoorte soos pasta, baie vrugte, groentes, hardgekookte eiers en jogurt. Indien hulle nie genoegsame minerale en kalsium inkry nie sal hulle geneig wees om te skree. Het hy genoeg speelgoed waarmee hy hom kan stimuleer en besig hou?

Nog 'n belangrike oorsaak is dat jou papegaai se hok moontlik te klein is vir sy groote. Dit gebeur dat hulle soms in te klein spasies moet leef wat hulle baie gefrustreerd laat en direk die oorsaak is dat hulle so skree. Hierdie papegaaie moet tye buite die hok ook geniet waar hulle die "ondersoekspeletjie" kan geniet. Jou huis is ook sy tuiste en moet die vryheid hê om alles te kan leer ken. Hier praat ons van die makgemaakte papegaaie. Laat hom ten minste daagliks 'n volle uur uit sy hok.

Jou papegaai is ingestel op jou
Dit word gewoonlik nie in gedagte gehou dat jou papegaai baie sensitief is en ingestel is op jou gemoedstoestand nie. As jy ontsteld is sal sy reaksie wees om te skree, veral as jy dit self doen. Probeer om in 'n rustige luim te wees in sy omgewing en moet nooit met jou papegaai werk of met hom gesels wanneer jy kwaad of ontsteld is nie, want jy gaan net meer gefrustreerd en kwaad word, wat hy gaan na-aap.

Hoe reageer jy
Wanneer jou papegaai skree hoe reageer jy? Hardloop jy na sy hok toe om te kyk wat aangaan en dan ontdek niks buitengewoons verkeerd is nie? Gil jy op hom om stil te bly of klap jy teen sy hok? Om op 'n papegaai se geskree te reageer kan dinge net vererger en hom niks leer nie. As jy verbind geraak het met jou papegaai wil ek voorstel dat jy altyd die volgende met hom doen:

1. Vertel hom waarheen jy gaan. As jy werk toe gaan vertel hom jy gaan werk toe en sal weer laat terug wees. Vertel hom jy gaan buite wees vir 'n ruk en wat jou rede is. Sou jy in 'n ander vertrek buite sy sig wees en hy skree, verseker hom jy is daar deur net sag te antwoord. Papegaaie hou daarvan om altyd van sy maat se bewegings te weet en indien moontlik altyd saam met jou rond te gaan.

2. Ignoreer jou papegaai geheel en al wanneer hy begin skree. Sit oorpluisies in jou ore, maar moenie hom enige reaksies toon nie. Dit sal jou 'n tyd neem om dit uit te voer, maar met geduld sal hy begin leer dat 'n geskree hom niks help nie. Wanneer hy stil raak gee hom 'n lekkerny as beloning terwyl jy hom prys daarvoor. 'n Speelding as beloning is ook goed. Herhaal hierdie manier en oor 'n tydperk van ongeveer 5 -7 weke sal hy geleer het 'n geskree help nie om aandag te kry nie.

Versorging
Dit van uiterste belang dat jou papegaai tenminste 2 - 3 keer per week moet bad. Dit hou hulle vere skoon en ook die vel word gereinig van sekere irritasies wat op dit voorkom. Kos maak hulle vere vuil en dit versprei na dievel. Wanneer hulle nat is gaan hulle in elkgeval meer konsentreer om hulleself droog te kry en tyd vir skree gaan daar nie wees nie. Moet van badtyd egter nie straftyd maak nie.

Slaap hy genoeg
Kry jou papegaai genoeg slaap of nie? As hulle nie genoeg slaap kry van ongeveer 8 - 12 ure nie is hy geneig om skreeuerig te wees. Rus is belangrik vir jou papegaai om hom gelukkig te hou. Maak seker dat hy in 'n donker plek is saans sodat daar nie ligte is wat hom steur nie.

Vars lig
As jou papegaai hokgebonde is sorg dat hy met tye buite kom, in sy hok, om son op sy vere te kry. Sorg egter dat hy niks langer as 10 minute in die son is per dag nie, veral waar dit baie warm word. Hierdie gaan sy aandag vir 'n tyd in beslag neem en vergeet van 'n geskree. Te veel hitte is gevaarlik en kan vinnig oorverhit wat hulle dood veroorsaak. Hulle het vitamiene nodig vir hul liggaame en sonlig voorsien in hierdie behoefte. Wees net versigtig om hulle nie alleen buite te laat ingeval van roofvoëls en ander bedreigings nie.

Ten slotte
'n Papegaai wat in pyn verkeer sal ook aan die skree gaan. As jy na al hierdie moontlikhede nog nie die mees rasionele verduideliking kan vind om jou papegaai se geskree te verduidelik nie, stel ek voor dat jy hom na 'n veearts neem om seker te maak dat hy nie dalk regtig siek is nie. Moontlik sal x-strale, bloedtoetse of ander tipe toetse nodig wees om vas te stel of daar fout is met jou papegaai.

 

skrywer: Francien Mare



2 comments:

  1. Ek het 'n groen ringnek van ongeveer 3 - 4 jaar oud met geen swart ring om die nek nie.Ek vermoed dit is 'n wyfie.
    Ek het haar gekry toe sy ongeveer 6 maande oud was en het haar baie aandag gee - uit die hok getel en probeer om haar te leer praat.
    Maar al wat ek hoor is 'n geskree. Nog steeds na 4 jaar is dit al wat ek hoor. Die hele dag is dit 'n onaardse gegil en 'n geskree wat
    almal in die huis irriteer. Niemand kan op die telefoon gesels nie. Niemand kan 'n ordentlike gesprek voer nie. As Stompie so skree,
    gooi ons haar vir 'n ruk toe met 'n kombers, sodat sy kan agterkom sy moet ophou. Maar deesdae hou sy net aan met skree al
    is die kombers ook bo-oor haar hok.
    Gee raad asb. Ons is al moedeloos, maar voel dat ons haar nie wil weggee nie. Sy is dan vir soveel jare gewoond aan ons en ons
    is bang sy pas nie aan by ander ouers nie.

    ReplyDelete
  2. Hallo Sandra. Ongelukkig is dit ʼn karaktereienskap wat eie is aan ʼn ringnek papegaai, dis nou die geskree. Of hulle ʼn oormaat aandag kry of nie. Maar die goeie nuus is dat daar wel ʼn moontlike oplossing bestaan om hierdie gedrag te beperk tot die minimum toe. Alles gaan net afhang van hoe julle dit voortaan gaan hanteer.

    Hier is wat ons voorstel: -

    Skyf hom na ʼn plek in die huis waar daar altyd beweging is, waar hy altyd iemand sien.

    Verduidelik aan almal in julle huishouding, bediende ingesluit, om hierdie belangrik stappe te volg. Wat ons hier probeer bewys is dat almal saam hieraan moet werk om die oplossing moontlik te maak.

    Julle moet hom geheel en al ignoreer, al is dit hoe moeilik, wanneer hy aan die geskree gaan. Wanneer julle op daardie oomblik wat hy aan die skree gaan, in die selfde vertrek as hy is, kyk anderpad en praat nie met hom nie. Onder geen omstandighede moet julle die vertrek verlaat nie.

    Sou hy net vir ʼn paar sekondes stil wees is dit reeds ʼn mylpaal behaal. Sou hy dalk net vir, kom ons begin met 5 sekondes, stil wees, gaan na hom toe en prys hom daarvoor. Maak ʼn groot ophef daarvan, maar praat met ʼn rustige stemtoon. Vertel hom hy’s ʼn pragtige papegaai, ens. Moenie te veel te gou van hom verwag nie, want hou in gedagte hy is besig om geskool te word. Hy leer ʼn nuwe, beter manier van aandag kry aan.

    Sou die hele huisgesin heeldag uit wees, moet julle noodgedwonge verduur om julle lewe verdraagsamer te maak saam met hom. Hou aan om dit vir ʼn kort tyd tydperk van stil wees te hou en begin die tyd van “stilte” langer maak. Hierdie langer tyd van stil wees kan julle hom beloon deur hom uit te haal uit sy hok uit. Prys hom altyd in ʼn rustige en kalm stemtoon, want as julle ʼn opgewonde en harde stemtoon gebruik gaan hy nie met sy geskree ophou nie.

    Verleng die tydperk van stil wees geleidelik en voor lank gaan julle die vrugte hiervan pluk. As almal saamwerk waarborg ons julle resultate en sal julle ʼn stil Stompie hê.

    Wat die toegooi met ʼn kombers aanbetref het ons agtergekom dat papegaaie dit in ʼn speletjie verander en as ʼn geleentheid sien om nog harder te raas. Probeer om dit te verdra en ignoreer hom soveel moontlik vir so lank moontlik totdat hy leer hy gestraf word op die wyse.

    Hoop dat hierdie julle weer nuwe hoop op ʼn nuwe Stompie gee, maar onthou wat belangrik is, is dat julle almal moet saamwerk.

    Kontak ons gerus as daar enige ander vrae ontstaan, ons help graag.

    Groete

    Francien

    ReplyDelete

Gewilde onderwerpe