'n QVRP blog
 
 Honde | Katte | Soogdiere | Voëls | Roberts Voëlname | Boeke

20.1.09

'n Papegaai op jou skouer

Inleiding
Na aanleiding van navrae oor papegaaie wat mag, nie mag, op jou skouer sit nie het ons hierdie artikel vir julle saamgestel. Ons vertrou dat daar meer duidelikheid rondom hierdie situasie sal bestaan en dat daar besef sal word dat hierdie kan ontaard in 'n groot probleem.

Die geliefde staanplek
Een van die grootste foute wat papegaai eienaars maak met hulle papegaaimaat is om hulle toe te laat om op hulle skouer te sit. Enige papegaai, selfs handgevoerde babas, geniet om so hoog moontlik te sit. Dit lei soms na stryery tussen voël en eienaar. As die eienaar nie daaraan glo om reëls daar te stel en leiding te gee, sal die papegaai die geveg wen en sy geliefde plek jou skouer word. In die begin mag dit op die oog af nie na ʼn probleem blyk te wees nie, maar wanneer die papegaai gewoond geraak het om dit sy staanplek te maak, sal dit uiters moeilik gaan om hom van vooraf hierin op te lei.

Daar is verskeie redes waarom skouersittery in ʼn probleem kan ontaard. Een van die mees treffende wyses waarop die ongehoorsame papegaai beheer kan word is deur oogkontak. Sou die papegaai dus op jou skouer plaasneem is dit nie moontlik om direkte oogkontak met hom te maak sonder dat jy beseer gaan word, deur sy snawel, in die gesig nie. Ook, ʼn papegaai op jou skouer beskou homself as die dominante een, omdat sy oëvlak gelyk aan die eienaar is of dalk nog hoër.

Jou optrede
Om die papegaai toe te laat om op jou skouer te klim lyk of dit gerieflik kan wees om sodoende meer tyd saam met hom te spandeer terwyl jy besig is met dagtake. Daar word van die stad punt uitgegaan dat die papegaai homself daar sal gedra. Tog een van die mees belangrike redes dat ons papegaaie aanhou is vir hulle intelligensie en nuuskierigheid.

Hierdie gedrag veroorsaak op die einde van die dag dalk een van die grootste gedragsprobleme met papegaaie. Omdat hulle van geaardheid nuuskierig is sal hulle na iets soek om te doen daar op jou skouer. Die "speelding" wat aan jou oor hang, of die donkerkleurige moesie aan jou nek gaan dadelik sy aandag trek en as uitnodiging hom nader wink.

Die snawel word nou gebruik om daaraan te proe en dalk te trek. Jy reageer met "stop dit, of, hou nou op". Hy hou vir ʼn oomblik of twee op net om weer in dieselfde versoeking te val. Skielik ontdek hy ʼn blink iets op jou bril se raam of ʼn los garedraad aan jou hemp. Weer raas jy met dieselfde woorde net die keer met ʼn harde stemtoon en meer drama. Nou onthou hy die moesie weer. Die keer met ʼn harder stemtoon en meer drama verwyder jy hom en plaas hom terug in sy hok.

Die papegaai het geen benul waarom hy teruggeplaas word in sy hok nie, want hy besef nie wat hy gedoen het is verkeerd nie. Al waarvan hy bewus is, is dat hy beloon is met ʼn wonderlike uitbarsting van drama. Hulle is baie lief vir drama-oomblike, want dit beteken vir hulle net een ding. Aandag! Hulle leer vinnig wat hulle eienaars motiveer om opgewonde te raak en hulle beskou dit as speel.

Soos die papegaai al hoe meer opgewonde raak, sal hy byt as deel van sy spel. Hy word dus beloon met ʼn harde stemtoon en drama. Indien die eienaar nie rustige reëls neerlê, metodiese leiding bied nie, sal hierdie papegaai ʼn probleem word, veral op sy eienaar se skouer.

Papegaaie wat grootgemaak word met reëls en regte leiding, bied die eienaar minder probleme wanneer hulle seksueel volwasse raak. Inteendeel, die papegaai wie altyd op sy eienaar se skouer toegelaat is, mag ernstige probleme veroorsaak soos hy territoriaal word.

Hulle gebied beskerm
Papegaaie wat op skouers sit verbind sterk met die eienaar se gesig. Wanneer hulle ʼn sterk verbinding met ons het en toegelaat word om op ons skouer se sit, glo hulle dat hulle saam beweeg met ons soos hulle op boomtakke beweeg in die wind. Ons liggame word dus hulle gebied. As hierdie territoriale gebied van hulle in enige opsig bedreig word, [jou man, kinders, troeteldier, ens wat naby jou kom] is dit tweede natuur om op die aanval te gaan en sy gebied te beskerm.

In die natuur vertoon ʼn papegaai wat sy gebied beskerm, skielik baie groter wanneer die stertvere uitgesper word, vlerke oopgesper, opgetel en hulle kuif vere oplig om hulle kleure ten toon te stel. Die oë word geflits en lyk so dreigend as moontlik. Hierdie optrede word met sy mens-maat ook gehandhaaf en wat meer is verwag hy dat jy ook so moet reageer om die indringer af te skrik. Nou groet ons hulle en lyk soos iets wat op ʼn stomp sit en niks doen nie.

Jy word nou skielik deel van die probleem en nie van die oplossing nie. Nou val hy jou aan om jou weg, na veiligheid te kry, en sal hy oorgaan en aanval. Die aanval is om sy maat te beskerm, maar ook sy gebied. Wanneer die gevaar verby is sal hy jou weer terugroep/soek.

Sou hy ʼn ander papegaai aanval sal hy ʼn snawel vol vere oorhou. Wanneer hy jou aanval sal hy waarskynlik met vel in sy snawel sit. Byte aan die gesig is nie net seer nie, maar kan oë ook beskadig en lelike letsels laat.

Heropleiding van ʼn "skouerpapegaai"
Die vraag is nie die volgende. Wat van die dame wat ʼn liefdevolle papegaai vir die afgelope twaalfjaar op haar skouer sit sonder enige probleme van aggressie? Moet sy nou haar papegaai heroplei om nie op haar skouer te sit nie? Seker tog nie - sy is die uitsondering op die reël.

Almal dink hulle is hierdie uitsondering totdat hulle eendag hierdie aggressiewe gedrag ervaar met hom op die skouer.

Begin hiermee
Begin deur jou papegaai op jou knie te plaas waar jy sit en lees of TV kyk. Hy kan daar rondspeel en kan jy vriendelike kyke vir hom gee of dan kwaai oog trek wanneer hy stout raak. As hy reeds die lelike gewoonte aangeleer het op teen jou arm op te hardloop, bring net jou ander hand af teen jou arm waar hy opklim, gebruik die OP bevel sodat hy op jou vinger moet klim. Moenie hierdie oomblik in ʼn spel met drama verander nie, hou dit ʼn streng opdrag. Herhaal dit oor en oor totdat hy geleer het jou arm is nie bedoel om teen op te hardloop skouer toe nie. Moenie die gewoonte aanleer, of daarby bly, dat jy net teen sy hok leun en hy op jou skouer klim nie. Staak dit dadelik. Dis deel van die nuwe opleiding. Handbeheer is essensieel om ʼn goedgemanierde papegaai te besit.

4 Reëls om jou papegaai op jou skouer toe te laat
1. Jou papegaai moet nie toegelaat word op jou skouer as jy hom toestemming daarvoor gee nie. Hy moet nie in beheer wees om daar te bly sit nie. In plaas daarvan dat hy teen jou arm oploop skouer toe, plaas hom daar met ʼn "OK" en "OP" opdrag wanneer jy hom weer verwyder.

2. Hy word nie op die skouer toegelaat as hy nie die "OP" opdrag gehoorsaam nie.

3. Hy mag glad nie op jou skouer toegelaat word sou hy in die verlede enige teken van aggressie getoon het nie. Hou sy liggaam se taal noukeurig dop wanneer ander mense of troeteldiere in dieselfde vertrek as jy is. Die meeste is rustig solank dit net hy en die persoon waarmee hy gebind het alleen is.

4. Papegaaie kan nie af en aanskakel nie. Moenie van hom verwag om homself te gedra terwyl hy op jou skouer sit nie. Maak seker dat hy iets het om hom mee besig te hou, ʼn speelding. Moet ook nooit sy wangedrag op jou skouer in ʼn speletjie verander deur hom te beloon met drama nie.

Ten slotte
Strenggesproke is dit nou vir die papegaai eienaar om te besluit of die papegaai van die begin af op sy skouer toegelaat gaan word, en of dit nie aangemoedig sal word nie. Onthou, dit is van die uiterste belang dat jy te alle tye in beheer van jou papegaai moet wees en ook bly.

 

skrywer: Francien Mare



No comments:

Post a comment

Gewilde onderwerpe