'n QVRP blog
 
 Honde | Katte | Soogdiere | Voëls | Roberts Voëlname | Boeke

20.1.09

Maak self lekkernye vir jou papegaai

As daar een ding is waarvan papegaaie hou is dit om te speel en te eet. Jy kan hiervan ʼn gekombineerde aktiwiteit van pret en kosplesier maak deur vinnige en maklike speelgoed van kos te skep.

Jou papegaai sal dit geniet en ʼn fees hê, of met die uitmekaar trek daarvan, of net met die ondersoek alvorens dit geëet word. Dit is terselfde tyd om jou papegaai te leer om met mensekos kennis te maak en dus nuwe kos te ontdek.

1. Springmielie speelding
Gaar, ongesout springmielies maak ʼn uitstekende kos speelding vir klein tot medium grootte papegaaie. Verwyder van die springmielies alvorens daar sout bygevoeg wanneer jy vir die gesin maak.

Indien jy gebruik maak van die springmielies vir mikrogolfoonde, gebruik die lae vet tipe. Nou neem jy ʼn naald en garing, wat dubbel ingeryg is, maak ʼn dubbele knoop aan die punt en ryg nou springmielies in, soos die wat oor Kersfeesbome gegooi word. Maak die string 12 - 14cm lank. Papegaaie is lief om hierdie kosspeelding te eet en sommer uitmekaar te breek.

Onthou om nie na die maak van kosspeelgoed as ʼn werk te kyk nie, want dan gaan jy nooit iets maak vir hulle om te geniet nie. As daar kinders in die gesin is, laat hulle hiermee help. Die springmielies kan met voedselkleursel gekleur word om dit meer aanloklik te maak.

2. Ontbytgraanspeelgoed
Nog ʼn kosspeelgoed wat maklik is om te maak is van ontbytvlokkies, die met ʼn gaatjie in die middel. Maak seker dat die lae suiker een gebruik word.

Gebruik ʼn knoop of ʼn hout kraal op die punt van die gare een ryg met ʼn naald om te verhoed dat die vlokkies deurtrek. Ryg nou die lengte wat jy verkies. Selfs hierin kan die gesin meewerk, die kinders sal geniet om te help.

Hang die voltooide vlokkiespeelding waar die papegaai kan bykom om homself te geniet. Hy gaan sekerlik daarvan eet, maar meer gaan net afgebreek word. Steeds, vir hom was dit pret gewees.

3. Groente, vrugte en neute speelgoed
Die dag wat jy vir die gesin vrugteslaai voorberei, sit van die stukke vrugte eenkant vir jou papegaai [onthou papegaaie kan nie avokadopeer en vrugtesaad eet nie]. Net soos jy groente voorberei hou ʼn paar stukkies vir die papegaai ook, maar nie rou aartappel of pampoen of patats nie. Hou ook van sy geliefde neute wat hy geniet byderhand.

Weereens gebruik jy ʼn naald met gare, dubbel gevou, en ryg vrugte, groente en neute al om die beurt in, in ʼn lang string. Jy kan ook verskeie kort stringe maak wat oral in die hok gehang kan word. Selfs op die speelpark kan jy dit hang terwyl hy buitekant die hok is.

Indien jy ʼn groot papegaai het kan dit op ʼn langerige metaalpen geryg word sonder die neute. Jy kan ʼn draadhanger neem, reguit buig en buig een punt as ʼn hak, die punte gladgeskuur sodat hy homself nie met skerp punte kan beseer nie.

4. Soek-die-kos speelding
Soek-die-kos-speelding gaan jy jou verbeelding moet gebruik en besluit watter tipe kos gebruik gaan word. Jy kan jou verbeelding vrye teuels gee. Kry twee van dieselfde voorwerpe wat gate in gemaak en ingeryg kan word. Onthou net verskillende sterktes en voorwerpe is nodig, afhangende van die papegaaispesie waarvoor jy dit maak.

Vir medium grootte papegaaie, die Macaw en ander grotes, werk klapperdoppe uitstekend. Vir budgies en kokketiele werk die klein papier, of plastiekbekers, net so goed. Vir groter as hulle kan jy in die kombuis rondkrap op soek na iets wat vir hulle sal werk. Wees net kreatief.

Om die speelding te maak moet daar ʼn gat onder in die bodem geboor word. Indien die houer plastiek is kan ʼn warm voorwerp gebruik word om ʼn gat deur te druk.

Afhangende van die voorwerp en grote van jou papegaai wat gebruik gaan word kan daar of van gare, lyn of katoen tou gebruik gemaak word om die speelding te maak. Die lengte wat dit gemaak word en die grote van ʼn knoop in die tou of gare, speel ook ʼn belangrike rol.

Aan die punt van die tou moet daar ʼn stewige knoop gemaak word om te verhoed dat die houer deurtrek. Die papegaai gaan bo-op sit met tye en ʼn mens wil nie hê dat hy moet afval na benede nie, omdat die knoop te klein was nie. Ryg nou die eerste houer in die tou in sodat die houer se oopkant na bo wys en die bodem op die knoop lê. Ryg nou die tweed houer bo-op die eerste met die boom na bo. Maak nou ʼn tweede knoop ongeveer 5 cm van die tweede houer af. Maak seker dat die tweede houer wat op die eerste een lê genoeg spasie het om op te lig en dig gat groot genoeg is sodat die boonste houer maklik op en af beweeg.

Kry dit nou gereed om in die hok te hang of op die speelraam. Vul die houer met allerhande lekker kos, veral waarvan die papegaai hou. Daar kan ʼn bietjie sonneblomsaad, neute, grondboontjies, vrugte, groente, en selfs ʼn klein stukkie koekie om hom te bederf, tussen die twee lae geplaas word.

Laat die papegaai sien hoe jy die houers, doppe vul, en dat dit van mekaar gelig kan word om binne uit te kom. Sit nou terug en aanskou hoe hulle die bedink oor hoe om daarby uit te kom. Dit sal pret wees en gaan hom lank besig hou - selfs ure lank - om by sy gunsteling kos uit te kom.

Hierdie kosspeelding kan oor en oor gebruik word. Jy kan dit net gereeld was, na elke ete, [of vervang die plastiek of papierhouers] om te verhoed dat enige bakterie binne begin groei. Vul die houer gereeld met verskillende tipe lekkernye sodat jou papegaai nie verveeld raak daarmee nie.

Ten slotte
As jy net jou verbeelding gebruik kan jy baie meer kreatief raak en nog sulke kosspeelgoed vir jou papegaai maak. Daar is kosspeelgoed te koop, maar die pret lê daarin om dit self te maak en te sien hoe jou papegaai dit geniet.

Dis egter belangrik dat daar seker gemaak word dat die materiaal wat jy gebruik veilig vir jou papegaai is. Moet nooit wat jy vir ʼn klein papegaai gebruik ook vir die groot of medium papegaaie gebruik nie, die moontlikheid dat hulle dit kan inkry is groot.

In enige huishouding is daar altyd iets wat in kosspeelgoed vir jou papegaai verander kan word, selfs kos wat veilig vir hulle is. Wanneer julle enige kosspeelgoed gemaak het deel jou idees met die ander papegaai eienaars asseblief. Ek is seker hulle sal daarvan hou om jou idee te gebruik om hulle papegaai mee besig te hou.

Laat ons weet hoeveel jy hierdie weergawe geniet het en hoe jy pret gehad het om jou papegaai dop te hou.

Ons sal enige voorstelle oor enige ander tipe onderwerpe waarin julle belangstel, waaroor daar gesels kan word, verwelkom. Stuur gerus die voorstelle sodat daar meer kennis opgedoen kan word oor papegaaie.

 

skrywer: Francien Mare



3 comments:

  1. ek wil graag weet. my african grey is nie gewoond aan groente en vrugte nie. hoe kry ek hom dat hy gewoond raak daaraan en dat hy dit eet,,so ook water, lyk of hy bang is vir water.

    ek sal dit baie waardeer as jy my raad kan gee in die verband....

    en ek kan hom(ek neem aan dis n hom) vryf maar nie optel en vas hou nie, dan wil hy byt

    ReplyDelete
    Replies
    1. Anonymous7/2/12 16:42

      Dollie hou ook nie van groente nie maar ek laat haar saam met my eet en maak 'n ophef daarvan, ek vries ook van die wortels en groente en sê dit is roomys, dan eet sy nogal daarvan.

      Delete
  2. Jacolene,

    Ek wil graag weet hoe oud is jou papegaai en waarom hy nie gewoond is aan groente en vrugte nie? jy sal maar stelselmatig te werk moet gaan en hom gaar groente voer en maak dit "veilig smaaklik" vir hom. Sit by hom en eet dieselfde kos en maak 'n ophef daarvan as jy vir hom 'n stukkie gee. Vrugte en groente is baie belangrik vir hulle en volhard maar hierin.

    Ja, hulle is nou maar eenmaal nie lief vir water nie en ja, hulle kan bang wees daarvoor. Maar hiervan moet jy 'n speeletjie maak en hy sal met baie geduld en tyd leer om dit te geniet.

    Moet hom nooit dwing om op getel te word nie, want hulle is nie altyd lief vir fiisiese hantering nie.

    Hou moed en jy sal wen.

    Groete

    Francien Mare

    ReplyDelete

Gewilde onderwerpe