'n QVRP blog
 
 Honde | Katte | Soogdiere | Voëls | Roberts Voëlname | Boeke

20.1.09

Leer jou papegaai praat - Deel III

Inleiding:
Ek vertrou dat jy die afgelope tyd jou papegaai vir 10 minute, twee maal per dag, geleer het, en dat jy reeds sukses met hierdie tegniek behaal het. Soos elders genoem is daar geen vasgestelde manier van opleiding gee nie en die beste is om voort te gaan soos jy glo dit vir jou werk en solank jy resultate sien.

Soos jou papegaai ouer word ontwikkel sy verstand na die van ʼn 3 - 4 jarige kind s'n. Omdat hulle sulke intelligente voëls is moet hulle gestimuleer bly anders ontwikkel hulle in probleem voëls. Hier praat ek spesifiek van die Jako/African Grey papegaai.

Terwyl hy nog nie gereed is vir die tipe opleiding nie is dit goed om op te let in winkels na vorms met verskillende kleure en fatsoene wat later handig te pas gaan kom.

Begin met kleure
Komplekse konsepte sluit dinge in soos die uitken van kleure, onderskei tussen vorms en grotes. Hierdie vermoë sal ontwikkel wanneer hy ouer as 3 jaar is.

Om hulle hierdie konsep te leer moet jy verskillende vorms van dieselfde grote, maar verskillende kleur bymekaar maak. Voorwerpe van verskillende grote en kleure moet ook byderhand wees. Ek het van Louis se speelgoed by ʼn baba winkel opgetel wat perfek vir die doel is.

Die beste papegaai wat baie vatbaar is vir komplekse konsep opleiding het ek gesien is die wat reeds ʼn goeie woordeskap opgebou het. Daar is bewys dat die African Grey die beste is wanneer dit kom by komplekse opleiding. Maar dit is verstommend wat ʼn klein budgie kan leer as jy net volhard met sy opleiding. Die maak egter nie saak hoe groot of klein jou papegaai is nie, jy kan steeds vreugde ervaar met die verbinding met hom in die tipe opleiding sessies.

ʼn Item wat ek uitstekend gevind het is die ring met sleutels van verskillende kleure aan wat by kinderwinkels gevind kan word. Om met kleure te werk, wys jou papegaaie die hele bos wat verskillende kleure bevat, maar dieselfde grote is. Tel een sleutel op ʼn slag op en noem die kleur daarvan. Herhaal die woord duidelik en stadig ʼn paar keer oor, maar maak seker jy het sy volle aandag. Sit die een neer en neem nou dit volgende kleur. Herhaal die proses tot jy elke een deurgewerk het. in die eerste sessie van die tipe opleiding moet jy dit vir 10 minute op ʼn slag met hom behandel en dan ophou.

Maak net seker dat jy stadig en duidelik praat sodat hy maklik verstaan en ook kan herhaal wat hy hoor.

Tydens die volgende sessie, herhaal die hele proses weer deur elke kleur te noem en te hanteer. Kies nou twee van die voorwerpe met verskillende kleure, maar dieselfde grote. Byvoorbeeld rooi en blou. Werk met hom deur te vra, "Watter een is rooi?" en tel dan die rooi voorwerp op en noem die kleure daarvan. Doen dit ʼn hele paar keer na mekaar. Herhaal die proses met die blou voorwerp. Hierdie opleiding sal ʼn hele paar keer toegepas moet word voordat hy tot die besef kom dat die idee is om kleur en vorm aanmekaar te koppel.

Om dit meer pret te maak kan jy iemand in die gesin betrek met die opleiding. Vra die ander persoon waar is die rooi vorm en laat hulle dit optel. Maak ʼn ophef hiervan en gee iets om te eet as beloning aan die een wat saamwerk. Herhaal dit ʼn paar keer met die ander kleur ook. Sodoende gaan jy die idee oordra wat jy hom wil leer en hom beloon as hy reg is. Laat die persoon ook verkeerd kies en antwoord, "Nee verkeerd," maar beloon hom nie en geen ophef moet gemaak woord nie.

Die doel van hierdie opleiding is om die papegaai te leer om die korrekte kleur en vorm te kies wat bymekaar hoort. Leer eers net twee kleure op ʼn slag totdat hy dit bemeester het en wanneer hy reg is moet hy geprys word en ʼn beloning ontvang. Iets waarvan hy baie hou. Bly by die een konsep en moenie oorslaan na verskillende vorms en grote nie. Die rede hiervoor is dat die konsep van kleure makliker is om te leer en goed om daarmee te begin.

Wanneer jou papegaai geleer het om kleure te identifiseer kan jy die voorwerp ophou en hom vra watter kleur die voorwerp is. Na ʼn paar maande se opleiding sal jy al die voorwerpe uitlê en hom vra om elke kleur vir jou uit te wys. Hy sal reg reageer op jou vrag, "Waar is die blou?"

skrywer: Francien Mare



No comments:

Post a comment

Gewilde onderwerpe