'n QVRP blog
 
 Honde | Katte | Soogdiere | Voëls | Roberts Voëlname | Boeke

20.1.09

Leer jou papegaai praat - Deel II

Indien jy die eerste deel van hierdie reeks gelees het en jou papegaai begin leer het om mensetaal na te aap, 20 minute per dag, sewe dae per week, hoop ek dat jy reeds sukses behaal het daarmee. Sommige papegaaie is vinnige leerders, terwyl ander weer hulle tyd neem voor hul eerste woord geuiter word.

Ek weet van ʼn vrou wat vir drie jaar gewag het om die eerste woord van haar papegaai te hoor [dit was ʼn conjure]. Al het sy met tye moedeloos geraak, het sy bly herhaal wat sy so graag wou hoor. Wat ek probeer oordra is dat jy nie moet tou opgooi en besluit dis nie die moeite werd as hulle nie dadelik leer praat nie, hou net aan.

Woorde in konteks
Wanneer hulle leer om woorde in konteks te gebruik is dit so absoluut die moeite werd, al ons pogings, en tyd daaraan spandeer. Die geheim daaragter is om hulle te leer hoe om woorde in konteks te gebruik. Moenie woorde net gebruik enige tyd van die dag nie, maar met die regte oomblik.

Soggens wanneer jy hom oopmaak groet met ʼn "môre ma," of vanaand wanneer jy hom toemaak met slaaptyd sê weer, "nag ma, lekker slaap." Maak ʼn hele gesprek rondom die situasie en hy leer wat daardie woorde oordra. Opgewonde moet jou stemtoon wees soggens en vanaand weer ʼn rustiger toon wanneer jy hom nooi om te slaap.

Wanneer dit tyd is om te eet vertel hom hy gaan nou eet, maar dis belangrik dat jy altyd dieselfde woorde gebruik en nie verwarring veroorsaak met te veel verskillende woorde rakende een geleentheid nie.

ʼn Appel voer
Sou jy gedurende die dag ʼn appel eet sorg dat hy of by jou sit, of jy naby hom sit sodat hy sien wat dit is wat jy dit is wat jy hanteer en so leer hy om die regte naam te gebruik. Elke keer wat jy ʼn appel optel en hy dit sien, sal hy die vrug se naam noem. Byvoorbeeld kan jy hom leer:- "Hmm, Lekker appel." Dit is ʼn frase wat jy elke keer moet herhaal.

Dis egter belangrik dat jy hom leer wat die naam van die tipe kos is waarvan hy hou en nie dit wat hy nie wil eet nie. Vra hy vir ʼn appel is dit omdat hy daarvan hou en graag wil hê.

Wys hom die vrug, skil dit stadig en sny ʼn skyfie vir jouself terwyl jy die woord appel oor en oor herhaal. Maak ʼn ophef van die proses, hoe lekker dit is, ens. Hou dan vir hom ook ʼn stukkie uit en noem weer die vrug se naam. Hou aan praat oor die appel en maak steeds ʼn ophef daarvan.

Onthou hierdie gedrag is hoe jy hom oplei om items te identifiseer en daarvoor te vra. Herhaal die proses met elke keer se opleiding. Dit gaan tyd neem vir jou papegaai om die woord/e te leer en moenie haastig wees nie. Dit kan selfs maande duur voordat hy jou op ʼn dag veras met die woord/e. Hou in gedagte dat hy die woord moet leer en om die woord met die voorwerp te assosieer. Onthou ook dat hy dit dalk nie kan regkry nie.

Maak van hierdie konsep gebruik wanneer jy hulle enige ander woorde en voorwerpe wil leer identifiseer. Moet egter nie net by voorwerp bly nie, handeling kan maklik geleer word.

As jy die woord "stout voël" gebruik om hom te leer dat hy oortree het sal hy die woord gebruik nog voor hy wel stout was. Dit is assosiasie. Hy weet jy het geleer dat foute "stout" is en nou gebruik hy dit byvoorbaat. Hy waarsku jou dat hy nou gaan stout wees.

Daar is gevalle waar hulle geleer het "eina" volg nadat hy jou gebyt het. So pasop, hy waarsku jou dalk net eers voordat hy tot aksie oorgaan.

ʼn Paar voorbeelde wat iewers handig te pas kan kom is die volgende:

"Hallo" wanneer jy tuis kom.
"Bye" wanneer jy of iemand ry.
"Lekker slaap" wanneer hy in sy hok toegemaak word met slaaptyd.
"Kom bad" vir badtyd.
"Optel" wanneer hy opgetel wil word.
"Nee" wanneer hy iets verkeerd doen en nie jou goedkeuring wegdra nie.
"Die name van familie en troeteldiere" wat deel van die gesin is.
"Kom hier" wanneer hy by jou wil wees.
"Lekker gevolg deur die klap van jou tong" wanneer hy iets lekker eet.

Onthou altyd dat jou papegaai nie die antwoord op jou vrae gestel ken nie en jy hom dus die antwoord OOK moet leer. Wanneer hy die vraag kan vra, herhaal dit met ʼn oomblik van stilte voordat jy die antwoord daarop leer.

My African Grey, Louis, het ek geleer sê "Ek is ʼn leeu" gevolg deur ʼn gromgeluid. Dit het ongeveer ʼn maand geneem vir hom om dit presies na te aap. Daarna het ek hom geleer, "Wat is jy?" stilte ... toe "Ek is ʼn leeu gevolg deur ʼn gromgeluid" as sy antwoord op my vraag. Nou sal hy my antwoord op my vraag, maar ook stel hy my die vraag met die antwoord wat hy leer ken het.

Mense, daar is geen perke wat jy jou papegaai kan leer nie. Dit hang maar net van jouself af. Geniet elke oomblik met hulle en volhard met die opleiding.

In die derde deel sal ons meer leer omtrent woorde in konteks te leer en die konsep rondom kleure en getalle. Volhard met basiese woorde en geniet dit wanneer jy agterkom dat hy luister na wat jy leer. Wanneer jy sy aandag het leer hom vir 10 minute op ʼn slag.

 

skrywer: Francien Mare



No comments:

Post a comment

Gewilde onderwerpe