'n QVRP blog
 
 Honde | Katte | Soogdiere | Voëls | Roberts Voëlname | Boeke

20.1.09

Leer jou papegaai praat - Deel I

Deel 1: Hoe om jou papegaai te leer sing en fluit

Inleiding:
Daar is gewoonlik so veel vrae rondom die leer van praat, sing en fluit van enige papegaai en in hierdie reeks van vier aflewerings, gaan ek poog om my ondervinding met julle deel en hoop dat julle iets daaruit sal leer.

Ek gaan poog om julle te leer om die papegaai te leer om spraak - woorde, geluide en ook hoe om woorde in konteks te bemeester. Wat egter belangrik is, is dat julle moet onthou daar is geen waarborg dat 'n papegaai, van watter spesie ook al, gaan praat nie, want nie alle papegaaie is praters nie. Sommiges leer vinnig en bou 'n groot woordeskat op, terwyl ander stadiger, of dalk net 'n paar woorde leer ken. Ek het al tot die gevolgtrekking gekom dat baie liewer klanke - geluide, of fluit verkies. Enige geluid, of gefluit, leer hulle vinnig en akkuraat.

Eerstens, laat ons vasstel watter papegaaie kan leer praat. Die antwoord hierop is eenvoudig. Enige snawel papegaai wat in ons tuistes aangehou word is fisies instaat om woorde te leer en dus te praat. Ek is jare gelede ingelig dat slegs die manlike papegaai praat en die wyfie nie. In my ondervinding het my budgie bykans 20 woorde gepraat en my kokketiel ook en beide was wyfies gewees.

Sun conures is nie bekend vir die vermoë om te praat nie, maar ek ken mense wie een het wat wel 'n paar woorde uiter. Kom ons aanvaar dat dit eerstens afhang van die papegaai self en tweedens van die persoon wat daarvoor verantwoordelik is om hulle te leer. So, of dit iets met die geslag van die papegaaie te doen het kan daar verskillende menings wees, maar ek is daarvan oortuig dat hulle almal kan praat indien hulle reg geleer word. As iemand jou inlig dat daar 'n sekere vasgestelde manier is om hulle te leer praat, hardloop. Hulle het nie naastenby 'n idee waarvan hulle praat nie.

My ondervinding is dat daar die dag wat jy jou papegaai kry, jy dadelik moet begin met opleiding. Dis nou om hulle te leer praat. Te vroeg sal dit nooit wees nie en raak nie moedeloos as hulle nie gou genoeg na jou sin begin sê wat jy sê nie. Tyd is al wat bepaal hoe goed jy was en of hulle sal praat. Hoe jonger die papegaai, hoe beter. Hoe makker die papegaai, hoe beter. Hou egter in gedagte dat dit nie beteken dat ouer voëls nie kan leer praat nie. Enige papegaaie wat met sy mens maat verbind het is in staat om te praat.

Volgende moet jy vasstel watter spraakkwaliteite met jou soort papegaai bekend is. Wat bedoel ek met kwaliteite? Neem as voorbeeld die goedkoop budjie wat oorspronklik van Australië af kom. Hulle is geneig om baie vinnig te leer praat en hardloop met woorde sodat hulle nie maklik verstaan word wanneer hulle praat nie. Daarom moet daar gekompenseer word met die neiging deur woorde stadig uit te spreek en laaaannnnnnnkkkkk uit te rek wanneer hulle geleer word. Die African Grey is lief daarvoor om hulle woorde met tye uit te GIL. Hier word ook gekompenseer deur hulle te leer met 'n sagte stem, of byna fluisterend. So wanneer hulle besluit om hard te praat dit nie te oorweldigend op die oor is nie.

Die Macaws en Cockatoos is nie bekend as goeie praters nie, en leer maklike woorde, hoewel hulle fluks leer aan toertjies, konsentreer ons meer op die papegaaie wat leer praat. Hier word eers met maklike woorde begin en uitgebrei wanneer daar vordering getoon word.

Eerste Stappe:
Kom ons begin met die eerste stappe in praat opleiding wat vir my belangrik is.

10 Minute Sessies:
Kies 'n tyd van die dag wat jou papegaai aktief is en belangstel in wat om hom aangaan. Om 'n slaapsessie te onderbreek gaan jy niks uitgerig kry nie. Hy sal geen belangstelling toon in wat jy te sê het nie. Kies twee 10 minute periodes per dag en spandeer dit net aan hom. Indien jou papegaai mak is neem hom na 'n ander kamer waar daar niks is om sy aandag mee af te trek nie. As hy in sy hok of buite dit is, kan hy besluit dis nou speeltyd en nie genoeg aandag gee aan wat jy hom wil leer nie. Belangrik is dit gewis, dat jy self ontspanne moet wees gedurende hierdie 10 minute sessies wat jy op 'n daaglikse basis net aan hom moet wy.

Begin met een maklike woord:
Die maklikste woord om gewoonlik mee te begin is "hi" of "hallo". Daar is geen vasgestelde reël wanneer dit kom by wat hy eerste moet leer nie, daarom kan jy jou eie diskresie gebruik. As 'n klein papegaai, soos 'n budjie geleer word, het ek sy woorde stadig en lank uitgerek, sodat hy duideliker kan praat. Ek het hom geleer om "preee teee biiirrrrdd" te sê. Met vinnige praters is dit beter om woorde lank uit te rek. Met ander voëls moet woorde duidelik uitgespreek word, sodat hulle die woorde kan "hoor" en dieselfde kan herhaal. Tien minute is gewoonlik die langste wat jy sy aandag gaan behou en hy sal jou vinnig daarop wys dat hy belang verloor het.

Moet egter nie verwag dat hy na 'n dag of drie gaan praat nie, want dit is 'n taak wat baie volharding verg. Wees getrou daarin dat jy op 'n daaglikse basis hierdie 20 minute spandeer en jy gaan die vrugte daarna pluk.

Growwe Taalgebruik:
Dit gebeur soms dat ons papegaaie kry wat aan ander behoort het en daarmee saam gebeur dit dat hulle growwe taal leer ken het. Dit kan woorde wees wat jy in jou huis nie gebruik nie. Nou ontstaan daar verleentheid, omdat hy hierdie woord herhaal juis op die oomblik wat jou erg in verleentheid bring. Wat nou gemaak?

Met kinders het jy die ondervinding reeds opgedoen dat jy hulle lank aan 'n sekere woord probeer leer, maar hulle kry dit net nie reg nie. Op 'n dag glip daar 'n lelike woord uit en sommer vinnig word dit opgetel en ook deur die kind herhaal, wat jou verleentheid skep. Papegaai is presies dieselfde. Dit blyk dat hulle vinniger leer waarvan ons nie hou nie, as dit wat ons graag wil hê hulle moet sê, en dan vrylik gebruik soos hulle goed dink. As dit met jou gebeur het is daar 'n paar voorstelle wat ek wil maak om jou verleentheid in die toekoms te spaar.

Om mee te begin moet jy aan jou gaste verduidelik wat die situasie rondom jou papegaai is. Verduidelik dat jy 'n aanneem ouer is vir hom wat nie suiwer taal leer praat het nie. Vra voorlopig verskoning indien hy hom sou wangedra deur lelike taal te gebruik. Die meeste mense verstaan en sal dit selfs amusant vind, alhoewel jy dit nie goedkeur nie.

Wanneer die papegaai hierdie woord/e sê, ignoreer dit geheel en al. As hy mooi woord/e sê, maak 'n groot bohaai daaroor. Beloon hom met iets spesiaal waarvan hy hou en prys hom. Aanmoedig hom deur self die goeie woord te herhaal in 'n opgewekte stemtoon. Moenie met hom baklei en hard praat wanneer hy oortree met verkeerde woorde nie, hy sal jou heftige reaksie as pret aansien en leer dat hy reaksie uit jou kry wanneer daardie woord deur hom gebruik word. Hy is die oorwinnaar as jy verkeerd reageer.

Papegaaie gebruik woorde wat hulle daagliks hoor, goed of sleg. Namate hierdie papegaai nie langer die gebruik van verkeerde woorde in sy nuwe tuiste hoor nie, sal hy stadig maar seker die woorde minder en minder gebruik. Werk aan nuwe frases en woorde, sodat sy woordeskat aangepas word. Daar is geen waarborg dat hy na jare weer eendag besluit om die woord van die dag te gebruik nie. Soos in die verlede moet jy dit geheel en al ignoreer. Ongelukkig is dit so dat daar geen manier bestaan om daardie woord uit sy woordeskat te verwyder nie.

Maar met die gebruik van interessante frases en natuurlik woorde sal hy waarskynlik woorde waarvan jy nie n bohaai maak gebruik maak nie. Maar met die nuwe tegnieke wat ons jou hier gaan leer deur die volgende paar weke, behoort hy beter woorde leer ken en gebruik daarvan te maak.

skrywer: Francien Mare



1 comment:

  1. kunt u dit misschien naar kijken ik denk dat sominge woorden verkeerd staan en voor dat ik ze verkeerd ga lezen laat me weten zou graag verder lezen

    ReplyDelete

Gewilde onderwerpe