'n QVRP blog
 
 Honde | Katte | Soogdiere | Voëls | Roberts Voëlname | Boeke

20.1.09

Jou baba papegaai is tuis

Baie geluk! Jou babapapegaai is tuis. Daar wag ʼn hele nuwe werêld vir julle twee met baie uitdagings en baie geduld van jou kant af. Jy moet altyd gefokus bly op geduld en volharding, en met dit in gedagte, hou jy die enigste sleutel na ʼn lang en gelukkige lewe saam in jou hand.

Onthou dat geduld, baie gesels met hom, en jy jou papegaai te alle tye in ag moet neem, so belangrik is. Hy weet nie wie jy is nie. Hy is ʼn vreemdeling met net vreemdes om hom. Dat hy ʼn tydperk van rou sal deurmaak is ook vanselfsprekend. Hy het alles verloor wat eens deel van sy jong lewe was, almal wat hy geken en liefgehad het - selfs die getroue versorgende hande wat hy leer ken en lief kry het, is weg. Hy moet jou eers leer ken voordat hy jou lief kan kry. Jy moet hierdie jong babapapegaai se vertroue wen, en dis eerlik waar nie altyd maklik as jy hom nie aanvaar as ʼn baie intelligente voël nie.

Die aanpassing - sover dit kos, hok en speelgoed betref - sal ʼn korte een wees. Dat hy jou eers moet leer ken - dit gaan veel langer neem. Die verhouding wat tussen ʼn papegaai en mens ontwikkel/bestaan, sal altyd op liefde en vertroue gebaseer wees. Sonder hierdie belangrike eienskappe sal daar nie een wees nie.

Die African Grey - soos reeds genoem - is uiters intelligent en baie sensitief. Hulle leef vir duisende jare in die natuur as papegaaie vir wie kommunikasie baie belangrik is in hulle eie taal. Hulle is ook baie onafhanklik en wil dit graag bewys. Begaan nie die fout om hulle gehoorsaamheid met die van ʼn hond of kat s'n te vergelyk nie. Hul hoë vlak van intelligensie word gemeet aan hulle onbegryplike begrip en fyn ingesteldheid dat hulle jou bui kan lees nog voordat jy dit self ondervind en hulle daarop sal reageer.

Gevolglik, as jy besluit om ʼn verhouding met ʼn African Grey te begin en enige verwagtings koester, en dit nie ontmoet word nie, volg teleurstelling. Moenie jouself bluf nie, jou vere-kind het dit reeds aangevoel. Hoe sou jy reageer as jy weet iemand is teleurgesteld in jou?

Moenie ʼn African Grey aanskaf omdat hulle praters is nie, omdat Greys "praat". Dit sal die verkeerde rede wees. Hy/sy behoort baie meer as net dit vir jou te beteken. Hulle is wonderlike en liefdevolle maats wanneer hulle hul liefde en vertroue gegee het. Die interaksie tussen hom en sy mens-maat moet nooit in enige opsig beperk word nie - jou teleurstelling wanneer hy nie aan jou verwagting voldoen nie, kan die spesiale verhouding vertroebel en hy mag dalk nooit daarna ʼn woord praat nie.

Hulle mag versigtig wees. Hulle kan deeglik kyk wat aangaan. Hulle sal vasstel hoe hulle omgewing lyk. Hulle moet aanpas by enige ander voëls en of troeteldiere, indien enige. Hulle is nie gebore mak diere nie en sy vertroue en liefde moet verdien word deur jou - of deur die wat ʼn vreugdevolle verhouding met hulle begeer. Indien jy ander troeteldiere het hou hulle vir die eerste twee weke weg van hom af. Moet hulle nie te vroeg blootstel aan te veel sensoriese waarneming met baie verwaring en geraas nie. As daar kinders, of kleinkinders is, waarsku hulle om versigtig rondom sy hok op te tree en nie op die hok af te storm met luide geluide en swaaiende arms nie. Papegaaie is daardeur geneig om bang te wees vir kinders, omdat hulle lawaaierig en baie aktiewe bewegings het.

Die aanpassings tydperk duur gewoonlik so drie weke. Wees geduldig. Moenie hom druk nie. Hulle weet nie hoe bemind hulle is en met hoeveel afwagting hulle koms mee ingewag is nie. Beheer jou opgewondenheid. Bly kalm. Gee hom tyd. Laat hy sy hok veral ondersoek en vertroud raak daarmee. Die speelgoed sal nuut wees en hy sal daarna wil kyk en daaraan knibbel.

Moenie te gou mense nooi om na hom te kom kyk nie, want die situasies skep vir hom baie spanning, omdat hy al hierdie vreemdes nie ken nie. Wees versigtig en vermy foute of ongelukkies - probeer om "slegte" dinge nie te laat gebeur nie. Sodra hy jou ken en vertrou sal hy ongelukkies maklik as een aanvaar. Hou hom vas sodat hy veilig voel by jou. Wanneer die tyd aanbreek en hy op jou hand of knie sit, laat hom daar ook veilig voel. Moet hom nie dwing om van kontak te hou alvorens hy gereed is daarvoor nie.

Wanneer hy begin aandag gee met opklim op jou hand let op met watter pootjie hy altyd eerste opklim en hou altyd dieselfde hand uit om hom mee op te tel. Indien nodig kan jy dit omruil, maar dis beter om te hou waarmee hulle begin het en aan gewoond is. Dis noodsaaklik dat jy sy lyftaal ken en verstaan sodat jy sal weet hy nie nou toonnaels geknip wil hê nie. Baie babas raak vinnig gewoond daaraan terwyl ander nooit gelukkig sal wees met hierdie taak nie. Daarom is dit beter om maar hierdie verantwoordelike taak vir die veearts te los.

Daar is ʼn maklike manier om ʼn babapapegaai te leer om op jou hand te klim van die staanspoor af. As hy nie vanself opklim wanneer hy hoor hoe jy "Op" sê nie, tel die twee lang toontjies van die dominante poot voor op met jou wysvinger, druk nou stadig teen die bors se gewig op en tel hom stadig op. Dit gedoen sal hy outomaties die ander pootjie ook optel en op jou vinger plaas. Hou jou vinger liggies oor sy tone net om te sorg dat hy nie sommer afklim nie. Hou jou ander hand naby net om te verhoed dat hy sy balans verloor en dalk val nie. Gebruik altyd die "Op" opdrag en ook die "Af" opdrag wanneer hy weer teruggeplaas word in sy hok. Sorg dat jy sy stert agter die stok plaas waarop hy moet plaasneem. Hy sal agteruit op die stok tree, anders kan jy hom voor die stok plaas sodat hy voorentoe kan opklim. Moenie die een poot se toontjies los alvorens hy op sy stok sit nie.

Onthou altyd hy is net ʼn babatjie en het baie slaap en meer kos as die volwasse papegaaie nodig. As jy dalk ʼn slaaphok het, gebruik dit dat hy rustig kan slaap sonder steurings. Wanneer hy gespeen is gee hom al die kos wat hy wil hê, want hy het gewig wat opgetel moet word. Vet word sal hy nie sommer nie, solank hy nie net sonneblomsaad en neute gevoer word nie. Baie weeg hulle papegaaie op ʼn daaglikse basis om vordering te monitor. Dit beveel ek aan na hy siek was en besig is met herstel. Andersins sal ek so eenmaal ʼn maand of oor ʼn nog langer tydperk uit mekaar uit doen. As daar skielike gewigsverlies plaasvind neem hom sonder versuim veearts toe.

Jy moet baba leer om te bad. Sproei hom op ʼn daaglikse basis en van kleins af. Behalwe as die weer koud is of hy dalk herstel na ʼn siek tydperk. Doen dit wanneer die dag warm is sodat hy droog kan word lank voor slaaptyd. ʼn Nat papegaai kan gou siek word. Gee hom ʼn platbak met louwarmwater en nie meer as so 2 ½ Cm diep nie. Hou toesig oor badtyd sodat daar nie fout kan gaan nie. Plaas gekleurde speelgoed in sy water wat hom nuuskierig sal maak en water toe lok. Jy kan self sover gaan en jou hande saam in sy water druk om hom te leer en aan te moedig.

Dit gebeur dat hulle watersku is, maar leer hom hoe veel pret daarin is. Moet hom nooit dwing om te bad nie. Jy kan hom met tyd leer om saam met hom te stort.

Die hok moet te alle tye teen ʼn muur staan, nie in ʼn trek, by ʼn venster of ʼn deur wat kort-kort op en toe gemaak word nie. Die venster kan of te warm of te koud word wat hom siek kan maak, of sy dood meebring as dit te warm is. Plaas sy hok waar daar deurlopend mense is en hy almal kan leer ken en aan gewoond raak. Moet nooit jou papegaai die onreg aandoen om hom in ʼn aparte vertrek te plaas waar hy net nou en dan iemand te siene kry nie. Maak hom deel van die gesin.

Wanneer daar van African Greys in besonder gepraat word, dink ek is dit belangrik om die baba vroeg reeds aan soveel moontlik voor te stel. Hierdie is opleiding vir die baba en veilige uitstappies, reise iewers heen in sy hok, nuwe voorwerpe, al die vertrekke in jou huis ens, is deel van sy opleiding. Al hierdie dinge moet stelselmatig en met oorleg gedoen word om seker te maak die baba nie blootgestel word aan onnodige spanning nie. Jy moet kennis hê oor die tipe geaardheid van die papegaaispesie wat jy besit sodat al hierdie dinge op die regte wyse toegepas kan word. Sodra jou papegaaikind geleer het om verandering te hanteer, sal julle lewens saam suksesvol wees.

Dit is van uiterste belang dat jy te alle tye moet sorg dat jou hande skoongewas is wanneer die baba hanteer word. So ʼn kleintjie is vatbaar vir enige infeksie, siektes en bakterie teenwoordig aan ons hande. Alles wat gebruik word vir voeding as baba [en later as volwasse papegaaie] moet so skoon moontlik gewas en gehou word. Om die regte tipe ontsmetting te gebruik raai ek gewoonlik aan dat die veearts die korrekte leiding hierin sal gee.

LET WEL: - MOENIE ENIGE BLEIKMIDDEL GEBRUIK NIE.

Enige baba, later volwasse, papegaai het nodig om veilig te voel met en by jou, sy maat. Maak seker dat jy die baba naby jou liggaam hou wanneer hy/sy by jou is. Dit dra by tot ʼn gevoel van sekuriteit waarmee hulle groot word wat lei na ʼn gelukkige en tevrede papegaai. Hulle moet die warmte, rustigheid en tevredenheid by hulle menseouers vind. Daar is sommige papegaaispesies wat hierdie tipe sorg langer nodig kry as ander aangesien party langer neem om volwasse te word. Met ʼn babapapegaai is dit goed om altyd ʼn skoon "papegaaihanddoek" byderhand te hê vir hierdie tipe situasies. Die baba kan met die handdoek liggies toegedraai word wat genoegsame sekuriteit bied waar hulle saam met jou sit, of aan die beweeg is saam met jou.

Hierdie word ʼn goeie gewoonte met tyd, want kan nuttig wees wanneer jy skielik na ʼn probleem moet omsien. Hulle is dan gewoond aan die handdoek en reageer rustig. Moontlik moet jy na toonnaels omsien, of vlerkvere knip en beheer jy hom makliker. Maar hierin wil ek voorstel dat jy jou papegaai na ʼn veearts neem om hierdie verantwoordelikheid oor te neem, hulle is die kenners. Daar is so min wat afgeknip moet word en as dit te diep geknip word kan die aartjie raakgeknip word, wat bloeding sal veroorsaak. Sou dit egter gebeur dat hulle nie van handdoeke hou nie, moet jy versigtig te werk gaan dat hulle geleer kan word waaroor dit gaan en rustig voel daarmee.

Dit is altyd goed dat die babapapegaai deur ander verantwoordelike mense hanteer word. [Verantwoordelik in die sin van mense wat weet hoe om die babas te hanteer, lief te hê en te versorg.] Om die baba deur ander te laat hanteer is deel van interaksie met verskillende mense en ook hoe hulle leer om ander te leer ken sonder vrees en onsekerheid. Onthou egter dat elke papegaai ʼn individu is en sy eie persoonlikheid het.

Terwyl jy met jou babapapegaai, later volwasse een, sit gee hom speelgoed waarmee hy homself kan vermaak. Dit lyk altyd te oulik wanneer liewer aan jou vinger wil byt, maar onthou hy word groot en die gewoonte sal later pynlik wees. Gee liewer iets waaraan hy kan kou. Roteer sy speelgoed elke 2 tot 3 weke net om te verhoed dat hulle nie daarmee verveeld raak nie. ʼn Baba winkel is altyd ʼn goeie plek om te soek na iets, maar maak seker dat dit harde plastiek is. Omdat hulle snawels so sterk, en skerp is, kan hulle klein deeltjies afbyt en daarvan inkry, wat probleme sal veroorsaak.

Voer jou papegaai soveel verskillende tipe kosse as moontlik. Daaglikse vars groete en vrugte, met skoon water in sy hok is belangrik. Bv. vars of gevriesde groente, vrugte, rys, paste, gaar peul bone, volgraan broodjie, gaar hawermoutpap, gaar of rou mielies. Moet nooit aartappels of pampoen rou aan hulle gee nie, maar wel gaar. As hulle nie vandag eet wat jy gee nie, raak nie moedeloos nie, hou aan gee en hulle sal later alles eet. Hulle gesondheid hang van die voedsel wat jy hulle voer af.

Vir jou papegaai is dit belangrik om kalsium in te kry. Dit vind ons in van die volgende lys wat net ʼn paar van baie meer is: - groen groete soos bv. spinasie, brokkollie, Brusselspruite [verkieslik rou].

Dan joghurt en harde kaas. [Moet hom nie sagte kaas voer nie en wel harde kaas. Ook net ʼn klein stukkie op ʼn slag. Nie daagliks nie.] Eiers is ook ʼn goeie bron, dan weer goed gaar en nie meer as 3 - 4 per week nie. Kook hulle hard, nie loperig nie, of maak roereiers sonder enige vet of sout. Gee hulle vars groente en vrugte op ʼn daagliks basis en sodoende kry hulle vitamien A in wat net so belangrik is.

Wanneer jy jou papegaai water gee is dit altyd beter om gebottelde water te koop. Saam met medikasie is dit veral nodig dat suiwer water gebruik moet word wat nie teëwerk met medikasie nie. Hou dit altyd in die yskas om te voorkom dat bakterie vorm.

Dit is ʼn baie persoonlike saak wat ʼn besluit van jou verg - gaan jy jou babapapegaai toelaat om te leer vlieg? Die moontlikheid bestaan wel dat hy eendag kan wegvlieg. Daarmee se lê ek nie dat hy glad nie moet leer vlieg nie, maar hou sy vlerkvere kort. Hiervoor beveel ek aan dat jy hom na die veearts neem om hierdie taak te verrig vir jou.

Die belangrikste is dat jou papegaai gelukkig en gesond moet wees. Dan ook belangrik dat jy saam met hom sy geluk deel sodat hy dit ervaar. Ek het aan die begin genoem dat hy baie fyn ingestel is op sy mens-maat en sal met jou bind wanneer hy jou leer vertrou het.

Geniet jou African Grey, of enige ander tipe papegaai wat jy besit. Elke papegaai het ander tipe behoeftes, maar een wat almal deel is om gelukkig te wees.

 

skrywer: Francien Mare



7 comments:

  1. Susan van Rensburg17/4/09 15:45

    Hello, ek het 'n baba Maccaw Pappegaai, (blou en goud) ongeveer 7-8 weke oud. Ek voer hom nog sy pap, maar wil graag hoor op watter ouderdom ek moet begin vrugte en ander kosse voer. Dit is die eerste keer dat ek self een groot maak, en het nie baie kennis oor die voer en groot maak van die baba voels nie. Ek weet wat hy als kan en nie moet eet nie as hy groot is, maar met baba weet ek nie op watter ouderdom ek die kos moet aanpas, en op watter ouderdom ek hom moet speen van die pap nie. Asseblief, kan julle help met meer inligting oor die voedings skedule van babagaaitjies. Sal dit opreg waardeer.

    ReplyDelete
  2. Hi Susan

    Dit is die laaste ding waaroor jy jou moet bekommer, nl. wanneer jy hom moet begin speen. Hulle kom op 'n punt dat hulle self besluit hulle is nou "groot" en sal dan al hoe minder pap wil eet. Wanneer hy pap weier gee hom kos, groente, vrugte en waarvan hy hou, maar reeds moet jy hierdie kosse voer sodat hy 'n eie smaak kan ontwikkel. Sorg dat hy altyd vars water in sy hok het sodat hy kan leer om te drink soos hy lus het. Gee ook so 2x 'n week 'n bietjie gemengde neute [omtrent 1 eetlepel] wat nodig is vir gesonde vel en vere. Maak egter seker dat hy nie te veel eet nie, dit kan veroorsaak dat hy te vet word.

    Daar moet steeds by 2 - 3 keer per dag pap gegee word en wanneer hy so tussen 9 - 10 weke oud is kan jy dit verminder na 2 keer per dag pap voer.

    Die beste is luister na hom en jy kan geen fout maak nie. Maak van eetenstyd 'n groot ophef sodat hy leer om sy kos te geniet en nie te veel te mors nie. vermorsing vind egter plaas wat onvermeidelik is.

    Laat weet my gerus hoe hy en jy vorder en as jy enige hulp nodig het kontak my gerus.

    Geniet jou "gaai-kind"

    Groete

    Francien Mare

    ReplyDelete
  3. Anonymous13/4/13 18:31

    hi my paegaai is 6 weke ek voer haar 3 keer 'n dag AV pap wanneer kan ek haar begin ander kossies gee

    ReplyDelete
  4. Hi ek het al n please african grey ek dink by het m kalsium te kort. Wat moet ek doen.

    ReplyDelete
  5. Hi ek het al n uit gegroeide african grey ek dink by het m kalsium te kort. Wat moet ek doen.

    ReplyDelete
  6. My afican gray is 16 mnd hoeveel is hul gewig

    ReplyDelete
  7. Hi ek het n baba african grey eet hy net 3 keer n dag soms eet hy nie als sy pappies

    ReplyDelete

Gewilde onderwerpe