'n QVRP blog
 
 Honde | Katte | Soogdiere | Voëls | Roberts Voëlname | Boeke

20.1.09

Houtspeelgoed vir jou papegaai

Iemand vra my nou die dag wat kan hulle doen om hulle papegaai te kry om nie sy houtspeelgoed so stukkend te byt nie. My antwoord was ʼn besliste: - "Moenie hulle probeer keer om hout stukkend te byt nie."

Die rede waarom hulle hout kou
In die natuur vorm hulle hul neste, gate in bome, wat met hulle sterk snawels uitgehol is. Met hierdie tipe gedrag, asook die stukkend byt van neute en sade, hou dit hulle snawels in ʼn normale lengte. Aangesien hulle snawels voortdurend groei, net soos jou vingernaels, moet dit normale lengte gehou word. Die snawel groei wel stadig, maar groei nietemin.

Hierdie gedrag van byt is eie aan die papegaai. Hulle kou hout omdat hulle natuur hulle daartoe dryf en hulle besef dit moet gedoen word. Nooit moet hulle gestop word nie. Maar dit is nie die rede waarom dit so belangrik is dat hout gebyt word deur papegaaie in hokke nie. Na alles, sou ons papegaaie toelaat om te broei, voorsien ons goed geboude neste vir hulle wat ons koop vir daardie doel, of bou dit dan met goeie materiaal vir hulle.

Die metgeselpapegaai en hout
As hierdie aangehoude papegaai in ʼn hok nie ʼn nes gaan bou nie, waarom is dit dan belangrik dat hulle toegelaat word om aan hout te kou?

In die natuur word 85%, dalk meer, van hulle tyd daaraan bestee om kos te soek en te eet en/of kleintjies voer. Die res van hul tyd word daaraan bestee om ʼn maat te soek, die maat te versorg, hulle gebied op te pas, bad, mooimaak en ander aktiwiteite. Die Here het hulle geskape met baie energie om te oorleef. Wanneer hulle uit hul natuurlike habitat verwyder word en in ons huise ingebring word, het hulle dus nie nodig om soveel energie en tyd te spandeer om te oorleef nie.

Soos ons reeds in die verlede genoem het, dink ʼn papegaai op die vlak van ʼn 2 - 4 jarige mensekind. Dit beteken dat hulle besig en aktief gehou moet word, sodat hulle gelukkig en intellektueel kan ontwikkel wat van primêre belang is. ʼn Verveelde papegaai is ʼn ongelukkige papegaai, en ʼn kronies ongelukkige papegaai gaan ontwikkel in ʼn ongesonde papegaai, wat vere pluk/stukkend kou, of baie ander ongesonde gewoontes sal aanleer.

Hoe om hout in die papegaai se lewe by te voeg
Natuurlik kan jy houtspeelgoed aan jou papegaai voorstel deur goeie kwaliteit en veilige speelgoed aan te koop vir die grote/tipe van die papegaai wat by hom sal pas. Elke papegaai behoort ʼn redelike groot verskeidenheid houtspeelgoed te hê wat gereeld omgeruil kan word vir hulle. Dit is om te verhoed dat hulle verveeld raak met wat in die hok is en kan geniet om daaraan te byt.

Dan weer is dit nie nodig om al die hout te koop wat hulle aan kan kou nie. Hier is ʼn voorstel hoe om hout by te voeg wat aan gekou kan word, wat hom weer besig sal hou - bo en behalwe sy speelgoed en jou antieke meubels.

Boomtakke
Gebruik veilige hout soos akkerboomhout, vrugtebome, [behalwe avokadopeerboom] en geen hout wat sapperig is nie. Bv. Vyeboom. Los die bas aan die takke wat hy hom mee kan geniet - dis nou om dit af te byt. Was die takke vooraf baie skoon en maak seker dat daar geen gif aan gespuit was nie. Los dat hulle deeglik droog word en gebruik in sy hok as stokke om op te sit. Plaas dit selfs as speelparke langs of bo-op die hok.

Maak self speelgoed. Vir klein papegaai soorte kan roomysstokkies ʼn gaatjie ingemaak word, dan ingeryg word op ʼn stuk katoenlyn of self ʼn dun ketting. Gebruik verf wat nie toksies vir hulle is nie, [ek gebruik voedselkleursel] en verf elke stokkie ʼn ander kleur. Onthou papegaaie is lief vir helder kleure en trek vinnig hulle aandag.

Vir medium grote papegaaie, gebruik langer en dikker stokke, tou en ketting met onbehandelde houtkrale.

Vir die groot papegaai spesie, boor gate in onbehandelde boomtakke en ryg met toue, met kettings, verkieslik vlekvrye staal, aanmekaar. Raak kreatief en jy sal verbaas wees hoeveel soorte speelgoed jy kan maak wat byna niks kos nie. Net toewyding en tyd. Hout tolle werk uitstekend vir speelgoed. Die tipe wat ma se garing aan opgedraai is.

Speel bome
Boomtakke ingeplant in groterige blompotte met skoon sand in, wat langs hulle hokke staan, maak uitstekende speelparke vir hulle. Afhangende van die grote van die papegaai moet jy daaraan dink om die takke in gips of sement te laat giet, sodat dit stewig genoeg is en nie omval wanneer daar rondgeklouter word nie. Maak net seker dat al die materiaal wat jy gebruik veilig vir die papegaai is. Nou kan hy rond klim en met speelgoed wat aan hierdie takke aangebring is speel.

Besige snawels, besige verstand maak gelukkige, gesonde papegaaie.

Sou jy van hierdie hout idees toepas in jou papegaai se lewe, sal jy ʼn besige papegaai met ʼn besige verstand besit wat daarby saam ʼn gelukkige papegaai is. Veral daardie tye wat jy nie tuis kan wees en hy op homself aangewese moet wees nie. Sodoende gaan jy verhoed dat hy behandelde hout kou wat tot sy nadeel is. Dalk nog jou meubels.

 

skrywer: Francien Mare



2 comments:

  1. Goeie More,
    Ek het n 5 jaar oue Blue Fronted Amazon aangeneem 3 maande terug (hy moes inderhaas n nuwe huis kry want sy vorige eienaar het baie siek geword) en hy het my hart heeltemal gesteel. Ek is n vreeslike neurotiese papagaai mamma en tog soooo bang iets gaan fout met hom of ek doen iets wat hom skade berokken. Ek wil baie graag n lys he van watter plaaslike bome geskik is vir my papagaai. Die inligting op die internet is baie gefokus op Amerikaanse bome en noem nie juis bome eie aan SA nie. Kan jy dalk help met so n lys?
    Verder - ek het al baie gelees mens moet die takke bak in die oond om goggas ens dood te maak wat in die tak is. Wat is jou opinie hieroor? Ek sou verkies om jou riglyn hierbo te volg sodat my papagaai blare en bas het om af te skeur maar ek is bang vir dierasietjies wat hom kan siekmaak.

    ReplyDelete
    Replies
    1. Ek sou by 'n kwekery navraag doen oor watter bome as giftig besou word en watter nie. Net 'n idee.

      Delete

Gewilde onderwerpe