'n QVRP blog
 
 Honde | Katte | Soogdiere | Voëls | Roberts Voëlname | Boeke

20.1.09

'n Gesonde papegaai dieet

Dit is belangrik dat jou papegaai se kos altyd kleurvol en verskillende vorme, teksture en grotes van natuurlike kossoorte moet wees. Die persentasie na verwys is ongeveer wat nodig is per dagvoeding, per kossoort. Om jou papegaai te veel verskillende kossoorte te voer is nie altyd korrek nie en is nie die regte manier om belangrike vitamiene en proteïene in te kry nie.

Daar is dae wat ek myne hoë vitamine A groente in sy kosbakke voer. Ook maak ek sagte kossoorte met gebalanseerdebestanddele wat ek weet vir hom nodig is om goeie gesondheid te handhaaf. Op hierdie wyse is alles saamgemeng en weet ek hy kry alles wat nodig is in. Aan die einde van die rubriek verskaf ek graag ʼn resep wat ek vir Louis saamgestel het met hierdie kossoorte.

Kwaliteit Proteïene - Tot 20%
Proteïene bestaan uit aminosure wat boublokkies van lewe is. Baie bronne van proteïene het nie genoegsamevoeding, omdat hulle ʼn onvolledige balans van belangrike aminosure bevat. Hierdie onvolledige bronne van proteïene kan met ander gemeng word om meer volledigeproteïene te vorm - soos rys en bone byvoorbeeld.

Gewone laevet jogurt, laevet maaskaas [nie te gereeld en teveel nie], en baie hardgekookte eiers. Witvleis van hoender, goed gaargekook, bruinrys, volgraan pasta, mielies, neute en verskeie tipe droëbone.

Vitamien A Groentes - Tot 30%
Groente wat hoog is in vitamiene A is een van die belangrikste voedselsoorte wat jy jou papegaai kan kry om te eet. Alhoewel daar vrugte is wat hoër in vitamien A is as ander, is vrugte nie die aangewese bron soos groente vir die belangrike voedsel vereistes nie. Vitamien A is belangrik vir vel en vere se toestand, gesonde visie en help die liggaam teen infeksie te baklei. Groente kan rou gevoer word, maar is meer verteerbaar gekook of gebak. Moet net nie oorgaarmaak nie aangesien dit die vitamiene kan vernietig.

Die volgende is goeie bronne van vitamiene A
Groen groentes
Spinasie, brokkollie, beet blare, pietersielie, groen soetrissie, en warmrissies.
Geel-oranje groentes
Soetpatats, skorsies, wortels, "butternut pampoen", rooi-groen-geel soetrissies en pampoen.

Vrugte met ordentlike vitamiene A
Perskes, nartjies, appelkose, papajas, suur rooi kersies.

Ander Vrugte En Groente - Omtrent 20%
Terwyl hierdie kosse nie hoog in vitamiene A is nie, bevat hulle belangrike voedselwaardes as deel van hul dieet.
Mielies op die stronk, ertjies in die dop, boontjiespruite, groenbone, beet, tamaties, aartappels, appels, druiwe, piesangs, granate, lemoene, vye, pruime, kiwivrug, turksvye, pynappel, nartjies ens.

Volgraan Produkte - Ongeveer 15 - 20%
Volgraanbrood of "toast", laesuikerinhoud of onversoete graanvlokkies, volgraan pasta, bruinrys, koring gaar sonder sout en koekies sonder die sout bo-op.

Koolhidrate - ongeveer 10%
Vrugte, pasta, graankos, volgraan brood mielies, aartappels, ertjies, neute, sade een suiwelprodukte. Die laaste drie sorg vir ʼn klein hoeveelheid vet/olie wat hy in sy dieet benodig.

Soos ek aan die begin melding gemaak het volg die resep wat ek vir Louis op ʼn gereelde basis voer saam met wat ek nie hierby gevoeg het nie. Hy geniet dit vreeslik baie. Onthou dat jy asseblief nie net hierdie kos moet voer nie, want hy moet nie moeg raak vir die kos nie. Hy moet dit bly geniet.

Iets-van Alles
1 Klein botteltjie wortels [babakos]
Soetpatats
Pampoen
1 Klein botteltjie appelkose, perskes of papaja [babakos]
Lemoenpampoentjies
Gerasperde wortels
3 Grofgesnyde bruinbrood [toast]
2 - 4 Eetlepels laevet ongegeurde jogurt

Maak nou as volg
1. Sorg dat alle groente gaargekook is.
2. Gooi in ʼn mengbak en meng totdat die brood deurweek is met die jogurt en sag is.
3. Dis gereed om te bedien.

Let Wel
Hierby kan jy enige ander vrugte of groente van verskillende kleur of tekstuur gooi.
Sorg net dat pampoen, aartappels en patats gaar en nooit rou gegee word nie.
Sorg dat die mengsel nie te slap is nie.

Voorbeelde
Groenbone
Brokkollie
Blomkool
Ontbytvlokkies sonder suiker
Laevet maaskaas
Gekapte neute en rosyne sonder sout
Hardgekookte eiers [nooit rou nie]
Pasta en/of bruinrys
Kapokaartappels
Laevet gewone joghurt

Onthou dat enige sagte kos vinnig bakterie vorm wanneer te lank in sy hok gelaat word en moet nie hergebruik word nie. Hou dit wat teveel is in die yskas, of vorm bolletjies en vries tot hard. Soos jy dit dan nodig kry kan dit ontdooi word vir gebruik. Maar seker dat dit nie te warm is wanneer jy dit vir hom gee nie.

As jy jou papegaai gesonde en gebalanseerde voedsel gee sal hy jare ʼn gesonde maat vir jou wees. Let op hoe hulle vere begin blink van gesonde kos.

 

skrywer: Francien Mare



7 comments:

  1. Sarietha7/5/09 09:31

    Kasper is nou al amper 5 maande oud en pragtig. Gesels nog baie min (fluit. Ek het agtergekom as ek die vertek verlaat hy begin fluit en roep, maar sodra ek inkom is hy weer stil. Is dit miskien omdat hy baie tevrede is - met ons in die vertrek - sy hok is in ons TV kamer en is die meeste van die tyd by ons. Ons praat gedurig met hom en partykeer sal hy daarop antwoord met 'n fluit en spelerige houding.

    Kasper is in 'n baie mooi roetine en as ons nie hou by daardie roetine raak hy sommer baie kwaad. Kwart oor ag in die aand wil hy regmaak om te gaan slaap. Hy eet partykkeer baie min - veral gedurende die dag wanneer ons nie daar is nie - maar dan soek hy "menskos" in die aand. Ek gee hom maar wat ons eet maar voel dis nie genoeg. Hy is nie baie lief vir sy pilletjies nie maar as ek dit vir hom met die hand gee dan eet hy. Ek is bang dit raak 'n gewoonte. Soggens wil hy net van my pap eet - is dit goed vir hom - daar is wel melk oor die pap maar hy drink nie fiesies die melk nie. Ek het gelees dat melk nie goed is nie - kan jy my bietjie inlig hieroor.

    Verder geniet ons hom baie en is soos 'n kind in die huis.

    ReplyDelete
  2. Sarietha7/5/09 09:55

    Hallo Francien Mare

    Ek wet nie of jy my vorige briefie gekry het nie. Ja soos ek genoem het is Kasper (ringnek)nou al amper 5 maande oud en te oulik. Hy wil net elke oggend bietjie van my ontbyt pap eet - maar ek het gehoor melk is nie goed vir hulle nie - hy drink nou nie die melk nie - maar daar is oor die pap - die vlokkies waarvan hy nou so hou is eintlik net saggemaak met die melk.(2% lae vet melk) Is dit ongesond om dit vir hom te gee.

    Verder vorder hy baie goed - dan wil ek ook graag weet - moet hy gereeld gaan vir ontwurming - ek het gehoor hulle moet gereeld daarvoor behandel word - kan jy my dalk inlig hieroor asb. Ek gee hom hoender boudjie so eenkeer 'n week om aan te kou - hy is versot daarop en eet die beentjie ook tot daar amper niks oorbly nie - is dit veilig vir hulle of is dit net die wit vleis wat hulle mag eet.

    Baie dankie en groete

    ReplyDelete
  3. Dag Sarietha

    Ek is opgewonde as ek lees hoe mense hulle papegaai-kind/ers geniet en oor hulle besorg is en weet met 'n geruste hart dat hulle 'n goeie huis gekry het. Ja, jy het reg verstaan dat melk, maar nie joghurt nie, nie gesond is vir hulle nie. die rede hiervoor is dat hulle melk nie kan verteer nie. In plaas daarvan dat jy hom melk oorgooi gee sy pap met 'n bietjie gewone joghurt/vrugtesap en hulle is eerlik mal daaroor. Dis gesond en gee maar daagliks, dan weer nie te veel op 'n slag nie.

    Wat die ontwurming betref, moet ek eerlik wees en noem dat ek nog nooit hiervan gehoor het nie. My advies hieroor is dat jy 'n veearts raadpleeg om seker te maak van die inligting.

    Ja, alle papegaaie is lief vir 'n hoender se beentjie en daar is niks mee verkeerd as jy hom een 'n week gee nie. Maak egter seker dat daar nie te veel sout teenwoordig is nie. Die wit vleis van hoender is beter, omdat dit vry van vet is wat gesonder is. Gee dit saam met kapokaartappels, gaar pampoen en patats en hy het 'n feesmaal.

    Geniet jou ringnek en laat weet as ons jou weer kan bedien met raad.

    Groete

    Francien Mare

    ReplyDelete
  4. mag groen ringnekke 'n spieël in hul hok he?

    ReplyDelete
  5. Hi Sonika

    Die kleur van jou papegaai het niks te make met 'n spieël in die hok aanbring of nie. Dit gebeur dat hulle, enige papegaai, verbind met hulle eie beeld in die spieël en dan verstaan die mense nie wat aangaan nie.

    Jy moet maar besluit, maar ons beveel dit nie aan nie.

    Groete

    Francien

    ReplyDelete
  6. Hallo Francien

    Kan jy asb vir my n lys stuur van wat n mens vir kokketiele kan gee om te eet en wat nie.

    BVB Vrugte en Groente ens.

    Kan jy dalk vir my se hoekom trek die manietjie kokketiel die wyfie se vere en kop kuif uit,en hoekom skreu hulle so erg.

    of kan jy dalk my skoon ma op 0763087416 bel en haar vra beantwoord asb en dankie

    Groete

    ReplyDelete
  7. Anonymous19/1/13 03:55

    More more het enige een dalk die resep vir die sonneblom/vrugte klok wat ons vir pappegaaie gee. Indien wel asb help met die resep! Dankie Renee

    ReplyDelete

Gewilde onderwerpe