'n QVRP blog

Honde | Katte | Soogdiere | Voëls | Roberts Voëlname | Boeke

22.8.19

Grootste kolonie koningpikkewyne krimp

Die kolonie koningpikkewyne op die eiland Île aux Cochons, in die suide van die Indiese Oseaan, is sedert die 1960's bekend as die grootste kolonie koningpikkewyne in die wêreld en die tweede grootste kolonie pikkewyne. Vanweë die isolasie en ontoeganklikheid daarvan, is daar egter geen nuwe beramings van die grootte daarvan gemaak die afgelope dekades nie.

’n Span navorsers het satellietbeelde met 'n hoë resolusie gebruik om veranderinge in die grootte van die kolonie te meet sedert die eiland laas deur 'n span wetenskaplikes besoek is in 1982. Destyds het die kolonie 500 000 broeipare ingesluit en het bestaan uit meer as twee miljoen pikkewyne. Foto’s wat uit ’n helikopter tydens ’n Antarktiese sirkumpolêre ekspedisie geneem is, bevestig dat die pikkewynbevolking van die kolonie gedaal het.

Data toon dat die afname in die laat negentigerjare begin het en saamval met ’n groot klimaatgebeurtenis in die Suidelike Oseaan wat met El Niño verband hou. Hierdie gebeurtenis het die voedingsvermoë van ’n ander kolonie 100 km vanaf Île aux Cochons nadelig beïnvloed. Dieselfde proses is moontlik verantwoordelik vir die lot van die kolonie op Île aux Cochons.

Siekte is nog 'n hipotese. Voëlkolera vererger tans bevolkings van seevoëls op ander eilande in die Indiese Oseaan, soos die albatros van Île Amsterdam en die pikkewyne van Marion-eiland.

Nie een van hierdie moontlikhede blyk 'n bevredigende verklaring te bied vir die afname in die omvang wat op Île aux Cochons waargeneem is nie.


(foto: Henry Weimerskirch)

8.8.19

Silwerstormvoël / Southern Fulmar

Fulmarus glacialoides

’n Baie skaars besoeker aan die Suid-Afrikaanse kus in die winter. Die voël se onderkant is wit, behalwe die grys agterrande van die vlerke. Hulle is alleen swerwers wat gewoonlik naby treilbote opgemerk word.

1.8.19

Schwannse knopharige bos-klaasneus

Petrodromus schwanni

’n Groterige klaasneus met donker hare op die kop en rug en gelerige sye. Opmerklik is die borselagtige hare onder die stert.

(Het iemand dalk 'n foto van ’n Schwannse knopharige bos-klaasneus?)

18.7.19

Beeste

’n Bees is ’n groot makgemaakte, gras-etende hoefdier. In algemene taalgebruik sluit beeste ook koeie, bulle, osse, verse en kalwers in.

Beeste word gewoonlik as vee aangehou vir hulle vleis (bees- en kalfsvleis), as suiweldiere vir melk en ander suiwelprodukte, en as werkdiere vir die sleep van karre, ploeë en dies meer (gewoonlik word osse hiervoor gebruik). Ander produkte sluit in leer en mis vir bemesting en biobrandstof.

In sommige lande, soos Indië en Nepal, word beeste as heilig geag. Afrika het omtrent 20 000 000 stuks beeste, waarvan baie op tradisionele wyse grootgemaak is. In tradisionele gemeenskappe word beeste soms as betaalmiddel gebruik en dui op die eienaar se rykdom en status in die samelewing.

Die bees is ’n sogenaamde herkouer. Die gras wat beeste insluk, word net gedeeltelik gekou, want hulle moet hulself op die weiveld volprop sonder om nog tyd met die kouwerk te verspil. Later word die kos weer opgebring en behoorlik gekou sodat dit reg kan verteer.

Beeste, soos alle soogdiere, produseer melk vir hulle kalwers. 'n Melkkoei skenk geboorte aan een kalf per jaar en produseer vir sowat tien maande daarna melk mits sy gereeld gemelk word.

In 1868 het 'n Franse wetenskaplike, Louis Pasteur (1822–1894), ontdek dat bakterieë doodgemaak word as melk tot 'n baie hoë temperatuur verhit en dan vinnig afgekoel word. Dié proses is bekend as pasteurisasie en maak dit moontlik om melk vir verskeie dae teen 1–5°C te stoor. Pasteurisasie is nou 'n standaardprosedure in melkerye waar melk van baie plase vir kommersiële verspreiding verpak word. Pasteurisasie maak net bakterieë dood en beïnvloed nie die voedingswaarde van melk nie.

Suiwelplase in Suid-Afrika kom voor in gebiede met 'n hoë reënval, volop water en groen gras. Daarby is daar talle individue wat een of twee koeie aanhou om melk vir hul gesinne te verskaf. Melk word in tenkwaens van die plase na die melkerye vervoer waar dit gepasteuriseer en verpak en dan by winkels afgelewer word. Kommersiële melkboere verkoop hul melk aan melkproseseerders of ander fabrieke, wat dan weer verwerkte suiwelprodukte aan winkels verkoop waar verbruikers dit kan koop.

Die koei word gewoonlik toegelaat om een keer per jaar te kalf en sy gee dan vir 300 dae daarna melk. Die koei se voeding is baie belangrik, want dit bepaal die gehalte en hoeveelheid melk wat sy sal gee. 'n Koei produseer melk in haar uier, waar dit gestoor word tot sy gemelk word. 'n Koei benodig 15–20 kg voer en 45–90 ℓ vars water per dag. Koeie eet gras (weiding), hooi of kuilvoer. Beeslekke met sout en ander minerale kan ook verskaf word om die dieet aan te vul.

Die Afrikanerbees (kortweg na verwys as Afrikaner) (Bos indicus) is 'n inheemse slagbeesras en die talrykste beesras in Suid-Afrika. Waarskynlik het die ras ontwikkel uit die vlakhoring-seboe wat langs die weskus van Afrika saam met Khoikhoistamme suidwaarts getrek het. In sy oorsprong is die Afrikaner suiwer Bos indicus. Die Europese bees, Bos taurus, het dus geen invloed op die ontwikkeling van die ras gehad nie. Met die landing van Jan van Riebeeck aan die Kaap in 1652, het die Afrikaner reeds as 'n stabiele spesie bestaan, terwyl die eerste Europese bees, Bos taurus, eers in 1706 ingevoer is.

Die ras het tydens die langsame verskuiwing deur woestynagtige, en min of meer tropiese en sub-tropiese westelike gebiede van Afrika in 'n bepaalde aanpasbare tipe ontwikkel. Die eerste Afrikanerbeeste is deur die koloniste van die Khoikhoi verkry en die ras is suiwer gehou deur boere van binnelandse distrikte soos Graaff-Reinet, Cradock en Tarkastad.

'n Os is 'n gekastreerde beesbul. Dit is is een van die oudste trekdiere wat deur die mens gebruik word. Osse is reeds in die 6de eeu v.C. in Middel-Europa vir landbou ingespan.

Die kastrasie maak die bul vir mense hanteerbaar en maak dit moontlik om die groot werkkrag van die dier te ontsluit. Dit gee hulle 'n minder temperamentele karakter wat hulle meer geskik maak om as werkdiere gebruik te word.

6.6.19

Langvlerkstormvoël / Great-winged Petrel

Pterodroma macroptera

Die langvlerkstormvoël word uitgeken aan die lang, smal vlerke wat met ’n skerp hoek by die polsgewrig gebuig word. Hulle kom een-een voor ter see en vlieg vinnig, dartelend en soms hoog bo die water.

Dit is ’n baie skaars besoeker aan die Suid-Afrikaanse kus.

30.5.19

Groot-klaasneus / Bos-klaasneus

Petrodromus tetradactylus tetradactylus

’n Roeskleurige klaasneus met grys sye, ’n rooierige snoet en groot roesbruin ore. Die groot-klaasneus se onderkant is wit.

(Het iemand dalk 'n foto van ’n Bos-klaasneus?)