'n QVRP blog

Loading

9.8.10

Wat voer jy jou papegaai

ʼn Dieet is ʼn belangrike aspek van ʼn papegaai se gesondheid en sy algehele tevredenheid. Omdat hulle intelligent is, het papegaaie stimulasie nodig en ʼn gebrek daaraan lei na die mees algemeenste gedragsprobleme. In die natuur soek hulle heeldag vir iets om te eet. Kos soek is een van die hoof aktiwiteite waarmee hulle hulself besig hou. Van nature vind hulle maklik ’n groot verskeidenheid kos. Daar is wel kossoorte wat moeilik is om op te spoor en dus ’n uitdaging vir die voël is.

Papegaaie wat in ons huise leef het geen uitdagings om hulle kos te vind nie. Dis daar, in kosbakke, van te kies en te keur. Die tipe kos is net so belangrik as wat die bediening daarvan is. Dit word daarom ʼn vereiste om gesonde kos in verskeie interessante en uitdagende maniere aan hulle beskikbaar te stel. Hulle moet etenstyd geniet, dit moet opwindend wees.

Die belangrikste ding om te besef is dat papegaaie nie net op saad moet leef nie. Die dieet verskil van spesie tot spesie en hulle herkoms speel ’n rol. Papegaaie moet altyd skoongewaste groente en vrugte eet. Hiermee saam kan saad en pille gegee word om die voël gelukkig en gesond te hou.

As ʼn reël is alles wat vir ʼn mens eetbaar is, goed genoeg om met jou papegaai te deel. Soos in alle dinge, is daar natuurlik uitsonderings - veral kosse wat ʼn hoë sout-, vet- en suikerinhoud het. Dit is glad nie maklik om ʼn papegaai so ver te kry om gesond te eet as hy nie daaraan gewoond is nie. Papegaaie is altyd versigtig wanneer dit by iets nuuts kom. As hulle die eerste keer wat jy die nuwe kossoort aanbied nie wil eet nie, moenie tou opgooi nie. Gee net elke dag en met tyd sal hy begin wonder waarom jy so knaend is en begin proe daaraan. Moet nooit sjokolade, alkohol, avokadopeer en rabarber vir jou papegaai gee om te eet nie.

Wilde papegaaie, in ʼn sin, “mors” baie kos deur dit na benede te laat val of deur dit weg te slinger. Hierdie “mors” help weer om balans aan die natuurlike habitat te bied wat nuwe plante voortbring en gronddiere van voedsel voorsien. So, jou papegaai ervaar jou huis as ʼn woud en sal op dieselfde manier optree. Ken ons nie almal hierdie “gemorsery” nie? Daar word beweer dat ʼn morsende papegaai ʼn gelukkige papegaai is. Wel, ons kan daaroor debatteer.

‘n Gesonde, gebalanseerde dieet vir jou papegaai moet bestaan uit proteïene, vitamien A groentes, vrugte en verskeie ander groentes, volgraan kossoorte en koolhidrate. Kom ons kyk na voorbeelde:

Voorbeelde van kwaliteit proteïene sluit die volgende in:
Baie hardgekookte eiers
Goed gaar hoender
Wit vis
Baie maer vleis bv. maalvleis
Bruinrys
Pasta, veral die volgraan tipe
Mielies (springmielies sonder sout of vet is ’n treffer)
Neute
Verskeie soorte gaar bone (soos die in tamatiesous, ek spoel dit goed met warmwater om die sout en suiker inhoud te verminder)

In elk geval moet hierdie tipe voedsel met matigheid gegee word weens die hoë vetinhoud. Kommersiële pille is ʼn goeie bron van proteïene, maar om jou papegaai op dit alleen te hou is nie voldoende en moet asseblief nooit as ʼn volledige dieet vir papegaaie beskou word nie.

Vitamien A is essensieel vir gesonde vere, vel, sig en help die liggaam teen infeksies veg. Nog goeie bronne van Vitamien A vind ons in ander tipe groente en vrugte en hier volg ‘n paar voorbeelde.

Ander groente met ‘n hoë Vitamiene A inhoud:

Groen groente soos: spinasie, brokkollie, pietersielie en groen soetrissies (geen rissies)

Oranje / geel groente soos: soetpatats, wortels, botterskorsie, pampoen en skorsies, brandrissies – rooi en groen, rooi en geel soetrissies

Ander vrugte met ‘n hoë Vitamiene A inhoud: perskes, appelkose, papaja en die suur rooi kersie.

Daar is ander groente en vrugte wat nie ‘n baie hoe inhoud vitamiene A bevat nie, maar die voedingswaarde daarvan speel ‘n belangrike rol in die ontwikkeling van die papegaai is die volgende: mielies, ertjies in die dop, boontjiespruite, blomkool, druiwe, piesangs en pynappels.

Volgraan vesel vind ons in die vorm van: - volgraan brood, lae suiker of onversoete graanvlokkies, volgraan pasta, hawermout koekies soos Provitas.

Koolhidrate vind ons in vrugte, pasta, graan kos, peul bone, aartappels en ertjies.

Suiwelprodukte: kaas en jogurt.

Vette vind jy in: neute en saad voorsien die papegaai in ’n mate van die nodige vet wat belangrik is in hulle dieet.

Hou hierdie inligting in gedagte wanneer jy jou daarop toespits om ‘n goeie gebalanseerde bord kos vir jou papegaai saam te stel.

bydrae: Francien Mare

3 comments:

  1. Sarina Visser24/7/12 05:20

    Goeie dag!

    Ek het ‘n ringnekkie, Bekkie en sy is pragtig in haar geel kapseltjie. Sy is mal oor bad en HAAT ‘n kombers oor haar hok! Deesdae tree sy bietjie vreemd op; sy gooi die heeltyd haar bakkie kos uit en sy byt almal en sy is net nie die Bekkie wat ons grootgemaak het nie! Ons weet nie of dit iets met haar “hormone” te doen het nie? Ons het haar in Oktober 2009 gekry en wil weet of sy al “reg” is om babatjies te kry?? En dan het e kook gelees op jul webpage dat ons vir Bekkie kan blare gee, is moerby-blare reg vir haar om te eet? Ons is baie lief vir haar en sal enigeiets vir haar doen! Enige raad?

    Dankie vir jou tyd

    ReplyDelete
  2. Hi Sarina
    Ek was bly dat jou gedagtes in die regte rigting inbeweeg het, want ja, die kan net hormoon ontwikkeling wees wat begin pla. Dit is maar die “grootword proses” wat veroorsaak dat die eens stil en rustige “voelkind” skielik verander. Daar is niks wat werklik daaraan gedoen kan word nie, maar liefde en geduld wat gepaar gaan met streng dissepline behoort een of ander uitwerking teweeg bring.
    Vergewe my ek kan nie onthou dat ek dit in my artikels aangeteken het dat moerby blare aan hulle gevoer mag word nie. Vir eers stel ek voor dat jy dit nie doen nie, sodat ek eers meer inligting hieroor kan inwin en jou dan laat weet. Sover my geheue strek, het ek nie melding gemaak van blare wat aan hulle gevoer kan word nie. Jy moet besluit of jy van haar ʼn troetel-kind wil maak, of dan aanhou om te broei. Ja, sy behoort gereed te wees om ʼn maat te aanvaar en moontlik te broei.
    Sterkte met jou pogings.
    Francien

    ReplyDelete
  3. Anonymous14/8/12 12:22

    Ek het `n African grey hy is nou 2 jaar oud . Ek het hom gekry toe hy 3 dae oud was. Hy eet alles wat ek durf eet , plus sy vrugte en rou groente uit my tuin uit. Die agelope week kan ek hom nie handteer nie . HY my in my gesig laat die bloed loop of op my vingers. Hy blaas sy vere op as hy my sien. kan julle my raad gee asseblief. Ek kan hom nie eers meer buite sit saam met my terwyl ek in die groente tuin is nie . My hart is baie seer oor sy skiedelike gedrags verandering.
    ek hoop julle kan my help Louise. email- lmhpot@gmail.com.

    ReplyDelete