'n QVRP blog

Honde | Katte | Soogdiere | Voëls | Roberts Voëlname | Boeke

9.2.09

Teel met jou African Grey

Moontlik is die grootste uitdaging waarteen jy te staan kom indien jy beplan om met die jako / African Gray / African Grey te teel die vermoë om te besluit watter nuwe papegaaie bymekaar gevoeg moet word vir die beste resultate. Die soektog na 'n volmaakte formule is reeds bewys as 'n frustrerende en tydsame proses. Die Grey se senuweeagtigheid maak die taak moeiliker. Hulle is so baie soos 'n mens, net so individualisties. Niemand kan verwag dat hulle moet doen soos jy wil hê en dan nog gelukkig moet wees daarmee nie. Dit is belangrik dat jy nugter beplan en kan besluit wat die beste vir jou situasie sal wees en sukses tot gevolg sal hê.

Ek weet van 'n man wat besluit het die wyfie moet uit omdat sy na 'n jaar steeds nie met die mannetjie wou paar nie. Die feit dat sy nie met hom wou bond nie het hom die besluit laat neem (my mening was dat hy te haastig was om die besluit te regverdig). Om hom 'n nuwe wyfie te gee sou 'n verdere wagtyd beteken en hy moes net geduldig wees met die eerste een. 'n Suksesvolle teler het gesê : "om voëls aan te hou 'n kuns is en nie wetenskaplik nie."

Die beste manier is om hulle so natuurlik moontlik te benader met teling. Laat hulle besluit watter maat hulle wil hê en plaas meer as net een paar, of twee wyfies, in 'n hok. Die hok moet hulle beweging nie beperk nie. Alles moet so natuurlik moontlik gehou word sodat hulle vryheid het in die besluitnemingsproses. Die redenasie en argument dat hulle te duur is om met twee pare te begin is geldig, maar dit sal meer sukses met teling waarborg. Greys, soos mense, hou daarvan om self te kies en daarvolgens op te tree. Vryheid in 'n African Grey se lewe en dit is uiters belangrik om dit in gedagte te hou wanneer jy met hulle wil teel. Gee hulle die kans en tyd om hulself te bewys.

Wanneer hulle 'n keuse gemaak het en paring plaasvind sal hulle reeds onafskeidbaar van mekaar wees. Alles van eet, speel, beweeg en slaap, sal in 'n eenheid geskied. Hulle sal meer soos een voël wees en nie twee individue nie. Die enigste tyd wat jy hulle apart sal vind sal wees wanneer sy op die nes sit. Gedurende hierdie tydperk waak die mannetjie geduldig by die opening van haar nes gereed om haar te versorg. Ongelukkig is dit ook so dat nie alle pare so teenoor mekaar optree nie. Maar dit is wat hulle sulke unieke papegaaie maak. Elkeen het sy eie temperament.

Die pare wat mekaar kies en hul optrede teenoor mekaar is nie altyd die deurslaggewende faktor in 'n suksesvolle teling nie. Geduld, privaatheid en regte voeding is ook belangrik en kan 'n groot invloed hê.

Ek vertrou dat hierdie raad iemand sal help om ook 'n suksesvolle teler te word. Die beste leermeester is eie ondervinding en baie geduld met hulle. Sterkte mense en sukses.

skrywer: Francien Mare

1 comment:

  1. Hi Francien

    Kan ek n broer en suster african grey met mekaar laat paar?

    Groete

    Petro

    ReplyDelete