'n QVRP blog

Honde | Katte | Soogdiere | Voëls | Roberts Voëlname | Boeke

22.2.09

Mites oor die African Grey slot

Slot - African Greys het meer kalsium nodig

In hierdie reeks van vier artikels het ons reeds na drie van die vier verskillende mites gekyk, nl: - Greys is lomp, hulle is een-mens papegaaie en dat hulle vere pluk. Vandag kyk ons na die vierde bewering, dat hulle meer kalsium nodig het as ander papegaaie - voëls. Al die mites word gekoppel aan mense se sienings, en waarnemings, en sulke stellings word regverdig deur te verwys na African Greys se gedrag. Maar ons het begin om te bewys dat daar 'n rede, mensgemaak, is waarom hulle afwykings toon en gedragsprobleme ontwikkel.

African Greys, na my mening, behoort nie gekoppel te word aan een enkele mite nie. Hulle het reg, en met oortuiging, om steeds sensitief en intelligent genoem te word, sonder dat enige negatiewe aanmerkings oor hulle gemaak word.

Die rede vir die mite
Van al die mites wat ons reeds behandel het, sterf hierdie een die vinnigste van al vier. Greys het kalsium nodig - soos enige ander voël, maar het beslis nie MEER kalsium nodig nie.

Die rol van kalsium is van die volgende: - Bloedklonte verhoed, beheer 'n ritmiese hartklop, vervoer senuwee impulse, voorsien hulle eierdoppe van genoeg kalsium, aktiveer verskeie ensiemstelsels ens. Aanvalle en ook beenverlamming is al toegeskryf aan 'n laebloedkalsium. Skielike ineenstorting en of flou word is bevind dat die te kort aan kalium reeds ver gevorder is wanneer hierdie simptome plaasvind by 'n African Grey. Van alle papegaaispesies, word daar meeste van die Grey verwag om aanvalle te kry as gevolg van 'n tekort aan kalsium.

Onbetroubare bronne beweer dat van die redes waarom 'n Grey vere pluk, as gevolg van 'n tekort aan kalsium kan wees. Te veel kalsium kan baie siektes veroorsaak wat hulle lewe sal bedreig. Gaan versigtig te werk met kalsium byvoegings. Oordadige gebruik kan hulle lewe kos. Die enigste tyd wat daar ekstra kalsium gegee behoort te word, is wanneer deur 'n veearts vasgestel is dat daar te min kalsium in die bloed bestaan. Hy sal besluit wat en hoeveel bygevoeg moet word.

Die beste voorkomingsmaatreëls is om die papegaai te neem vir bloedtoetse om vas te stel of daar wel 'n tekort is aan kalsium. As jy enige simptome sien, huiwer nie en neem hom dadelik vir mediese hulp (want dan is hulle siekte reeds ver gevorder). Omdat hulle meesters daarin is om hulle siekte weg te steek, stel ek voor dat jy 'n jaarlikse veeartsbesoek onderneem net om na sy welstand om te sien.

As 'n Grey op 'n gevarieerde pille dieet is - so 'n dieet bevat van die volgende: - olywe, laevet kaas, yoghurt en of groente, - moet hy geen ekstra kalsium ontvang nie, behalwe as dit voorgeskryf word deur 'n veearts. Dit is van uiterste belang dat jaarlikse bloedtoetse gedoen word net om seker te maak die kalsiuminhoud korrek is, aangesien die vlakke kan verander. 'n Jong papegaai sal natuurlik 'n laer kalsiumvlak hê as die volwasse papegaai.

Wanneer ek genader word oor papegaaisiekte, en vitamiene en ander belangrike voeding, laat ek my te veel uit daaroor nie, maar beveel onmiddelik aan dat 'n veearts opgesoek moet word met hierdie tipe navrae. My mening, soos reeds oorgedra in die reeks, is dat die mense-maat 'n groot verantwoordelikheid het om na die African Grey om te sien, rakende sy gesondheid ten eerste, daarna dat hy 'n gebalanseerde dieet moet volg, dat daar aan sy emosionele welstand baie aandag gegee moet word en dat hy daarom 'n gelukkige papegaai-maat vir baie jare sal wees.

Tenslotte
Al die mites wat ons in die reeks behandel het, sal nie van toepassing wees op jou papegaai-kind nie, maar doen wat jy moet. Stel hom eerste, of dan moet jy nie eers oorweeg om een aan te skaf nie.

skrywer: Francien Mare

No comments:

Post a Comment