'n QVRP blog

Loading

19.1.17

Swartkopalbatros (-malmok) / Light-mantled Sooty Albatross

Phoebetria palpebrata

’n Uiters seldsame besoeker aan die Suid-Afrikaanse kus.

Die volwasse voël het ’n asgrys lyf met ’n donker kop, vlerke en stert. Daar is ’n ligblou streep op die snawel wat net van naby gesien kan word.



(foto: Dimitri Damasceno)

10.1.17

Adéliepikkewyn se voortbestaan bedreig

Indien jy een van diegene is wat van mening is dat aardverwarming ’n kwessie van opinie is, moet jy dalk gaan praat met die Adéliepikkewyne.

Die klimaat beheer reeds miljoene jare die verspreiding van Adéliepikkewyne oor Antarktika. Geologiese rekords vir die tydperk toon duidelik hoe die pikkewyne gekom en gegaan het in die streek weens klimaatsverandering. Navorsers van die Universiteit van Delaware in die VSA het egter bevind dat dit nou ’n keerpunt bereik het.

Volgens die navorsers sal sowat 60% van alle Adéliepikkewyne verdwyn het teen die einde van die eeu. Antarktika het sodanig verhit dat dié spesie nie meer suksesvol genoeg kan aanteel om hulle getalle te handhaaf nie.

Die studie is gepubliseer in die Junie 2016 uitgawe van die joernaal Scientific Reports


Foto: University of Delaware/Megan Cimino

21.12.16

Dringend op soek na renostermelk

Die dramatiese toename in renosterstropery die laaste paar jaar en die meegaande droogte in Suid Afrika het ’n groot aantal renosterwesies tot gevolg gehad. Dié babarenosters sal nie oorleef sonder die sorg en toewyding van instansies soos die Fundimvelo Thula Thula Rhino Orphanage nie. Dié weeshuis het ’n voortdurende behoefte aan melk en medikasie om te help om die kalwers groot te maak en ’n kans te gun om terug in die natuur geplaas te word.

12.12.16

Trekvoëls betaal die prys vir pole wat verwarm

Die knoet is ’n bekende gesig aan die Suid-Afrikaanse kus in die somer. Hulle hou veral van strandmere waar jy hulle sal sien stadig stap en elke nou en dan hul snawels diep in die sand druk om ’n skulpdier by te kom.

Die knoet is egter besig om kleiner te raak. Dit is toe te skryf aan die voël se lang snawel wat besig is om korter te raak. Hulle kom nie meer daai goeie kwaliteit skulpdiere by wat diep in die sand grawe nie. Die gevolg is dat hulle tevrede moet wees met laer kwaliteit en ook meer seegras moet eet.

Die probleem begin by hul Arktiese broeiplek. Die geboorte van die kuikens het altyd saamgeval met die opbloei onder insekte wat saamval met die begin van die somer in die Arktiese toendra. Die verwarming van die pole het egter veroorsaak dat die broeityd nie meer lekker saamval met die verskyning van die insekte nie. Die nuwe voëls is gevolglik kleiner, met korter snawels. Minder van hulle oorleef uiteindelik.

Die knoet verlaat die Arktiese broeiplek elke jaar met die aanbreek van winter vir ’n meer matige klimaat elders, veral in die trope. Hier sukkel hulle nou om die regte voeding te kry as gevolg van die fisiese veranderinge. Navorsers het bevind dat hulle nou net ⅓ van hul normale voeding kry.

Dit is skrikwekkend as mens na die data kyk en oplet dat die ys in die Arktiese toendra nou elke jaar vroeër smelt – gemiddeld 12 uur vroeër elke jaar. Dit is een dag vroeër al om die ander jaar ... Dit is ’n skrikwekkende gevaarteken!



(Die navorsing waarna hier verwys word is uitgevoer deur die Nederlandse Koninklike Instituut vir Mariene Navorsing. Dit is gedoen onder leiding van Jan van Gils en is gepubliseer in die Mei 2016 uitgawe van die joernaal Science.)

(foto: Jan van de Kam)

(bydrae: Quintus van Rensburg)

5.12.16

Vin- en bultrugwalvisse se jagveld in Antarktika

Die area rondom Wes-Antarktika is die jagveld van ’n groot aantal vin- en bultrugwalvisse.

Ongeveer 5 000 bedreigde vinwalvisse (Balaenoptera physalus) en 3 000 bultrugwalvisse (Megaptera novaeangliae) besoek die area elke somer. Dit is die bevinding van ’n groep Duitse navorsers. Hulle het ook ’n opname uitgevoer om te bepaal of daar ’n verband is tussen die walvisse se beweging en die voorkoms van die klein planktonkrefies, kril.

Planktonkrefies se naam kom van hulle grootste voedselbron, plankton.

Uit die navorsing is onder andere geleer dat vinwalvisse nie vol fiemies is as dit kom by kril nie. Hulle eet wat voorkom. Bultrugwalvisse eet ook enige kril maar hulle verkies Euphausia superba.

’n Baie belangrike punt van die navorsing is dat ons ’n streng ogie moet hou oor die kommersiële kril-vangs in die area om walvisse se voortbestaan te verseker. ’n Studie is ook nodig oor die grootste plankton-eters, baardwalvisse.

Die navorsingspan is gelei deur Helena Herr van die Universiteit van Dieregeneeskunde Hannover in Duitsland. Die studie is gepubliseer in die joernaal Polar Biology.



(foto: ITAW/Carsten Rocholl)

28.11.16

Tier het nuwe oë

Arabella, een van die pragtige tiere van Panthera Africa Big Cat Sanctuary ondergaan 'n katerak verwyderingsprosedure by die Kaapse Diere Ooghospitaal op 16 November 2016.

21.11.16

Blou-aap / Vervet Monkey

Cercopithecus aethiops pygerythrus

Hierdie blou-grys apie is ’n algemene gesig in Suid-Afrika, bo vanaf KwaZulu-Natal tot onder by Swellendam in die Wes-Kaap.

Hulle kom gewoonlik voor in klein groepies, maksimum 12. Die groepies se gunsteling uithangplek is groot akasiabome langs strome. Wanneer hulle alarm maak skree hulle ’n klipharde “’ngkau”.

Blou-ape eet graag bessies en vrugte. Om hierdie rede is boere nie mal oor hulle nie. Hulle is boonop slim en sal mens dophou in vrugteboorde vanaf ’n skuilplek voor hulle toeslaan. Hulle kan ook swem.

Die wyfies dra die baba’s teen hulle bors tot hulle groot genoeg is om na hulleself te kyk.

14.11.16

Hoekom het sommige voëls meer as een kleur

By sommige diere sal jy vind dat dieselfde spesie voorkom in twee of meer kleure. Nuwe navorsing verklaar dalk hoekom.

Navorsers aan die Universiteit van Kaapstad van swartsperwers bestudeer het bevind dat hulle jag-tye beïnvloed word deur hul kleur. Swartsperwers kom voor in verskillende skakerings wat wissel van donker na lig. Die verskillende skakerings se sukses in ’n jagtog wissel afhangende van die tyd van die dag. Donker voëls doen beter in die donker en ligter voëls doen beter as daar meer lig is.

Toe die navorsers swartsperwers oor die hele Suid-Afrika bestudeer toe raak dit duidelik dat die voorkoms van die verskillende kleure wissel na gelang van die vlak van die lig in die areas waar hulle broei. Dit wil dus voorkom of die kleur aanpas by die area.

Die studie is gepubliseer in die joernaal Ecology Letters.